Agri Wes-Kaap beklemtoon standvastigheid te midde van menigte uitdagings

Dr. Theuns Eloff, gasspreker tydens Agri Wes-Kaap se streekkongres in Oudtshoorn, het gepraat oor die komende munisipale verkiesings en Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte.

Lede van Agri Wes-Kaap (AWK) het verlede Donderdag, 9 April, tydens die organisasie se streekkongres in Oudtshoorn saamgetrek om kernkwessies in die landbousektor te bespreek, met die fokus op eenheid en volhoubaarheid in ’n uitdagende landbou-omgewing.

Die kongres is geopen deur ds. Jan Marais van NG Kerk Oudtshoorn-Wes met skriflesing en gebed, waarna die organisasie se fokuspunte vir die jaar bespreek is onder die tema: “Standvastigheid in ’n veranderende wêreld.”

Tydens die kongres is streeksbestuurders vir die onderskeie gebiede ook herverkies.

Verskeie sprekers het die geleentheid toegespreek oor aktuele kwessies wat die landbousektor raak.
AWK president Villiers Loubser het die belangrikheid van georganiseerde landbou beklemtoon en gesê dit rus op drie kernpilare: verbintenis, verantwoordelikheid en strategiese noodsaaklikheid.

“Landbou is die fondasie van die daaglikse lewe, en kongresse en samekoms is die hartklop van georganiseerde landbou. Dit is ook een van die min strukture wat selfstandig gebly het,” het hy gesê.

Die hoof uitvoerende beampte van AWK, Jannie Strydom, het gesê landbou moet die primêre fokus bly. “Ons fokus moenie van landbou wegbeweeg nie.”

Hy het bygevoeg dat die rampbestuursentrum voortdurend proaktief optree om boere te ondersteun in uitdagende omstandighede.

Grondpaaie en infrastruktuur
Die toestand van grondpaaie in landelike gebiede het ook sterk aandag geniet. Volgens terugvoer is ’n data-opname tans aan die gang om ’n prioriteitslys saam te stel van grondpaaie wat dringende aandag benodig.

’n Terugvoersessie met die ingenieursfirma Zutari en die Departement van Landbou word vir Junie beplan om die geprioritiseerde paaie te bespreek.

Biosekuriteit sentraal in beheer van BKS
AWK se regsbestuurder, Louis Wessels, het meer besonderhede gedeel oor die bek-en-klouseer (BKS) uitbreking en gesê die situasie in die streek is tans tot ’n mate onder beheer.

“Ons kan met lof praat van die rampbestuursentrum. Inentings is tans aan die gang, waar selfs privaatveaartse ook bydraes lewer, maar ons kan nie nou laks raak nie. Biosekuriteit bly uiters belang-rik.”
Volgens hom is die inenting van ongeveer 80% van die nasionale kudde ’n realistiese teiken om verdere verspreiding te beperk.

Hy het verder die samewerking tussen die SAPD en die verkeersdepartement geloof vir hul rol om die verspreiding van die siekte in die Wes-Kaap te help beperk.
Jongboer van die Jaar inskrywings amper gesluit

Die 2026 Agri Wes-Kaap Jongboer van die Jaar-kompetisie, wat vanjaar weer aangebied word, is ook tydens die kongres bespreek.

Die kompetisie fokus op bestuursvernuf, tegniese vaardighede en strategiese denke eerder as die grootte van ’n boerdery.

Boere wat wil inskryf of genomineer word, moet:
• 40 jaar of jonger wees; en
• vir minstens een jaar ’n opbetaalde lid van ’n landbouvereniging wees.

Die wenner sal die Wes-Kaap op nasionale vlak verteenwoordig wanneer die land se Jongboer van die Jaar aangewys word.

Inskrywings sluit op 24 April 2026. Vir meer inligting of om die inskrywingsvorm te ontvang, stuur ‘n e-pos na elandri@awk.co.za.

Politieke onsekerheid en verkiesings
Die gasspreker vir die dag, dr. Theuns Eloff, het die kongres afgesluit met ’n bespreking oor die komende munisipale verkiesings en Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte.

“Daar is politieke onsekerheid en dit is ’n jaar vol uitdagings — nie net plaaslik nie, maar ook weens internasionale druk.

Tog bied 2026 nuwe geleenthede met die verkiesing wat voorlê.”

Volgens Eloff kan koalisieregerings op munisipale vlak toenemend die nuwe normale word.

Ten spyte van verskeie uitdagings wat die landbousektor tans in die gesig staar, het die kongres ’n duidelike oproep tot standvastigheid en samewerking gelewer.

Daar was ’n duidelike boodskap dat georganiseerde landbou ’n onontbeerlike rol in stabiliteit en volhoubaarheid speel. (MALISSA SPIES)