’n Aand van hoop en verandering: “Jou Nuwe Begin” raak harte met boodskap van hoop na Oudtshoorn

Bo en onder : “Jou Nuwe Begin” 2025 in Hartenbos. Foto’s: NEXT - Arno Pretorius

Die Rec in Voortrekkerweg gaan op Donderdag 23 April die middelpunt wees van ’n besonderse aand van inspirasie, geloof en nuwe perspektief wanneer die landswye beweging “Jou Nuwe Begin” in die Klein Karoo plaasvind.

Johandre Potgieter saam met die kunstenaars Heinz Winckler en Neville D sal die aand lei, wat reeds regoor Suid-Afrika duisende mense bereik het. Hekke open om 17:00 en die byeenkoms begin om 18:30.

“Jou Nuwe Begin” is nie net nóg ’n geleentheid op die kalender nie, maar deel van ’n groter beweging wat daarop gemik is om gemeenskappe te bereik met ’n boodskap van hoop, herstel en nuwe lewe.

Volgens die organiseerders is die doel eenvoudig maar kragtig: om mense te help om weer perspektief te kry en om Suid-Afrika te sien verander deur veranderde harte.

Op sosiale media word die boodskap duidelik gestel: ware verandering begin nie by sisteme of strukture nie, maar by individue. “Ons glo die antwoord vir ons land lê in Jesus en die waarheid van die evangelie,” lui een van Potgieter se kernboodskappe.

Bo: Die span van “Jou Nuwe Begin” hard aan die werk met voorbereidings.

Die formaat van die aand is informeel en toeganklik, met ’n kombinasie van musiek en boodskappe wat daarop gemik is om mense te bemoedig en te inspireer.

Wat dié byeenkoms besonders maak, is die oop uitnodiging aan die hele gemeenskap.

Daar is geen kaartjies of registrasiefooie nie – ’n doelbewuste poging om seker te maak dat almal, ongeag hul omstandighede, die geleentheid kan bywoon.

Organiseerders doen ’n beroep op die publiek om ook vriende, familie en kollegas saam te nooi.

In ’n tyd waar baie mense onsekerheid, druk en uitdagings ervaar, word die aand aangebied as ’n ruimte waar mense kan stil word,weer moed kan skep en moontlik ’n vars begin kan beleef.

Die verwagting is dat die byeenkoms ’n betekenisvolle impak op die plaaslike gemeenskap kan hê, soos reeds in ander dorpe ervaar is waar soortgelyke geleenthede plaasgevind het.

Besonderhede:
• Datum: 23 April 2026
• Tyd: 18:30 (Hekke open 17:00)
• Plek: Recreation Ground, Oudtshoorn
• Toegang: Gratis
“Jou Nuwe Begin” – dalk is dit presies wat jy nodig het.