Die Wes-Kaapse Regering het dringend opgetree om veeboere te ondersteun met ’n R22 miljoen hulppakket vir veevoer om die impak van aanhoudende droë toestande in die provinsie te verlig.
Volgens die Wes-Kaapse Departement van Landbou is die hulp goedgekeur as deel van ’n risikoverminderingsprogram, aangesien beperkte reënval oor ’n lang tydperk ernstige druk op natuurlike weiding geplaas het.
Die Provinsiale Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, dr. Ivan Meyer, sê boere verkeer tans onder groot druk.
“Ons veeboere ervaar werklike uitdagings as gevolg van langdurige droë toestande. Hierdie ingryping is daarop gemik om kuddes, bestaansmiddele en weidingshulpbronne te beskerm,” het Meyer gesê.
Hy het beklemtoon dat die hulp daarop gemik is om nie net onmiddellike verligting te bied nie, maar ook om die langtermynvolhoubaarheid van landbou in die provinsie te beskerm.
“Deur nou die druk op natuurlike weiding te verlig, help ons boere om deur moeilike toestande te kom, terwyl ons die veld beskerm sodat dit kan herstel wanneer dit wel weer genoegsaam reën,” het hy bygevoeg.
Hoe werk die aansoekproses?
Veeboere wat vir die hulp wil aansoek doen, moet ’n aansoekvorm vir droogtehulp, naamlik die risikovermindering-verligtingsaansoek vorm, voltooi.
Slegs een aansoek per grondgebruiker/boer (selfs al besit jy meer as een plaas) sal oorweeg word.
Vorms moet volledig ingevul word met alle relevante besonderhede en dokumentasie.
Voltooide aansoeke moet by ’n plaaslike landboubeampte of distrikskantoor ingedien word.
Vorms is beskikbaar by distrikskantore van die Departement van Landbou, organisasies soos Agri Wes-Kaap, AFASA en ander landbouliggame of aanlyn in Engels en Afrikaans op die Elsenburg-webwerf (www.elsenburg.com/programmes/disaster-risk-reduction/drought-disaster-survey-forms/).
Boere kan ook direk navraag doen by Leslie Marthinussen by 021 808 5360, of ’n e-pos stuur na Leslie.Marthinussen@westerncape.gov.za.
Die departement moedig boere aan om, benewens die hulp, steeds volhoubare weidingsbestuur toe te pas om toekomstige klimaatsuit- dagings beter te kan hanteer. (ANGELIQUE ERASMUS)
