
MANDRI SUTHERLAND, of Vroudrie, soos sy op die verhoog bekendstaan kuier tans by vanjaar se KKNK met haar eenvroustuk “Vrou ens…”
Angelique Erasmus (née Sutherland) is sedert 1 November 2022 die redakteur van Die Hoorn op Oudtshoorn.
Die Hoorn het bietjie met die twee sussies, albei in die media- en vermaakbedryf gesels.
Mandri het tot dusver meer as 50 keer haar skaterlag, “Vrou ens…” vertoning in verskeie teaters, huise se sitkamers, eetkamers, stoepe en selfs ’n swembad of twee opgevoer.
“Die idee het ontstaan tydens die inperking, toe al die teaters gesluit was,” vertel Mandri.
Huis konserte is toe gebore en vir die afgelope jaar voer sy die stuk op, wat gebaseer is op vroue in haar lewe wat haar inspireer, irriteer en soms kritiseer.
“My sussie het tydens my eerste optrede van hierdie stuk by ’n familie saamtrek in Mokopane, die klank behartig, en sy het ’n goeie ‘job’ gedoen,” skerts sy.
Die storie laat gehore oral nie net skaterlag nie, maar trek ook ’n traan of twee wanneer Mandri herinneringe uit haar ouma se huis vertel.
Daardie herinneringe vind aanklank by meeste mense in die gehoor, omdat so baie, hulle daarmee kan vereenselwig.
“Dit was vir my hartseer, maar tog ook goed om al die dinge van my ouma se huis te kan onthou toe my sussie oor ons Ouma Soetland gesels,” voeg Angelique by.
Goed wat mens al eintlik vergeet het… en die trane het vrylik geloop.
“Gelukkig was ek nie al een wat gehuil het in die gehoor nie,” spot sy.
Albei susters is baie kunstig. Albei skilder, hou van dans en musiek en waardeer die mooi in die lewe.
“Ek verkies dit net agter die kamera as voor die kamera, so dis ’n goeie balans,” lag Angelique.
Sy is ongelooflik trots op haar suster, wat ook al ’n hele paar televisierolle losgeslaan het.
Daar is niks lekkerder vir Angelique om haar sussie op die kassie te sien nie.
Mandri was onlangs te sien in die skreeusnaakse TV-reeks Magda Louw, en ook Donkerbos, wat albei op kykNet uitgesaai is.
Benewens Vrou ens…, waarmee Mandri verder deur die land toer nadat sy gister haar laaste vertoning by die KKNK gedoen het, wag daar nog ’n hele paar opwindende produksies op TV vir haar voor.
Spits jou ore vir haar strelende stem op verskeie radio-advertensies.
Volg Mandri gerus op Facebook en Instagram vir meer inligting oor haar volgende vertoning of om ’n huiskonsert in jou eie huis te bespreek.