‘Droomkraan Kronieke’ plaas plaaslike stories in die kollig

BO: Janion Kennedy (links) en Glenisha Tarentaal voor die “mandala” wat die Karoo Kaarte-projek verteenwoordig. Die ou Xenia-gebou op die hoek van Baron van Reede- en Kerkstraat huisves die uitstalling. Heel Onder: Janion en Glenisha gesels met besoekers aan die uitstalling. Onder: Uitbeeldings van die Karoo Kaarte-projek op die vensters van die ou Xenia-gebou. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

‘DROOMKRAAN KRONIEKE’, ’n produksie eie aan Oudtshoorn met Oudtshoorniete wat die rolverdeling van die toneelstuk opmaak, is volgens deelnemers aan die projek ’n belewenis wat hulle nooit sal vergeet nie.

Die produksie spruit uit 2022 se opwindende Karoo Kaarte-projek, die breinkind van die befaamde visuele kunstenaar Vaughn Sadie en teatermaker Neil Coppen.

‘Op Hierie Dag’ – verlede jaar se produksie – is vir sewe Kanna-pryse benoem!

Vanjaar is nog twee bekendes in die Suid-Afrikaanse drama-bedryf betrokke. Craig Leo is ’n wêreld-bekende poppespeler en Carlo Daniels het reeds ’n Kanna-toekenning ontvang vir sy optrede op die verhoog. Hy speel self in die toneelstuk en het Oudtshoorniete bygestaan en opgelei in fisiese teaterkuns.

Die Hoorn het reeds in verlede week se koerant ’n voorsmaak van die projek gegee, en in vandeesweek se uitgawe gesels ons met Janion Kennedy en Glenisha Tarentaal – beide is op een of ander manier betrokke en aangetrokke volgens hulle tot die stuk.

Volgens ’n persverklaring van die KKNK is hierdie projek, gestig in 2021, deel daarvan om stories van inwoners te vertel wat deur publieke deelname op die voorgrond op die been gebring is, met insette van plaaslike visuele kunstenaars, digters, skrywers, kunstenaars, inheemse kennishouers, musikante, navorsers, leerders, opvoeders en aktiviste.

“’n Multidissiplinêre kunsprogram word uit kreatiewe navorsing wat hieruit na vore gekom het, op Oudtshoorn vir die KKNK saamgestel. Karoo Kaarte werk om die ooreenkomste tussen persoonlike stories en plek te onthul en die projek se naam verwys na hierdie kruisings deur te sinspeel op die dubbele betekenis van kaarte in die Oudtshoorn-konteks. In die plaaslike volkstaal verwys ‘om kaarte te sny’ na kuier en die vertel van stories – beide ernstig en lighartig,” lui die verkla-ring.

Die naam van vanjaar se produksie kom juis uit plaaslike be-kende, digter en skrywer – Poem Mooney – se onderhoud.

Volgens Kennedy – akteur, rymkletser en skrywer van oorspronklik Dysselsdorp en nou Oudtshoorn – is gehore tot dus-ver “weggeblaas” deur ‘Droomkraan Kronieke’.

“Daar is net soveel elemente wat saamgesmelt word om die een produksie te maak. Mens gaan deur soveel ‘waves of emotions’ tydens die stuk. Jy voel soms hartseer, jy voel soms gefrustreerd, en daar is tye waar jy vir jouself lekker sit en lag. Dis ’n verhaal van die verlede, en vir my as 23-jarige wat ouer mense se stories vertel, is dit asemrowend! Ek het nooit besef daar is soveel wonderlike stories hier nie!”

Tarentaal is die projek-assistent van die produksie en uitstalling. Die ou Xenia-gebou op die hoek van Baron van Reede- en Kerkstraat huisves die uitstalling.

Sy het vertel, dat as deel van die onderhoude wat met inwoners gedoen is, sy ongelooflik baie geleer het.

“Die terugvoering wat ons van mense ontvang is verskriklik interessant. Baie het emosioneel geraak! Ek self is letterlik op ’n tuimeltrein van emosies geneem. Om in die gehoor te sit en te sien hoe alles gedoen is, dat die produksie soos ’n onderhoud amper vloei, was ’n belewenis van self.

Dit was net ‘wow’ om te sien hoe ’n produksie soos ’n onderhoud gemaak kan word.” (Deur Stefan Skapie Goosen)