DIE moord op die jong vrou Almay Hurling (21), van Bridgton in Oudtshoorn het Maandag die gemeenskap in rou gedompel.
Die polisie is Maandag omstreeks 15:40 na ’n toneel ontbied waar hulle ’n 21-jarige vrou met veelvoudige steekwonde gekry het. Sy is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Die polisie het forensiese deskundiges na die toneel ontbied en die area is gefynkam vir enige leidrade. “Die motief vir die moord moet nog vasgestel word, en vorm deel van die polisie se ondersoek,” het sers. Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie aan Die Hoorn gesê. Volgens Spies is die verdagtes steeds op vrye voet, maar alle leidrade word opgevolg.
’n Plasing van Leon Campher, raadslid en gemeenskapsleier van Oudtshoorn op Facebook, het Campher gevra dat enige lede van die publiek met inligting na vore moet kom.
Hy het ook melding gemaak van ’n blou Volkswagen Golf in sy plasing wat in die area opgemerk is.
Die Hoorn het met Hurling se familie kontak gemaak, maar hulle is nog te geskok om oor die voorval te praat.
Hulle het haar wel as ’n stil kind beskryf wat op haar plek was en meestal by die huis was.
“Sy was baie lief vir boeke,” het hul aan Die Hoorn vertel.
Hurling se roudiens sal vandag (Donderdag) plaasvind met ’n drive-by wat om 16:30 by die Plate begin, en die roudiens wat om 18:00 by Buisstraat plaasvind.
Meer oor die skok-moord in volgende week se uitgawe.
Persone met inligting kan met ao Morne Janse van Rensburg van die Oudtshoorn Polisie in verbinding tree en hom skakel by 044 203 9002 of 083 706 977.
Dorp in rou na moord op Almay Hurling
Almay Hurling (21)