TOERISME na die Groter Oudtshoorn is stadig maar seker besig om te herstel nadat Covid-19 dié kernbedryf in die dorp in ’n groot mate lamgelê het.
Oudtshoorn is in ’n herstelfase, sê Tammy Moult, voorsitter van Oudtshoorn Toerisme.
“Alles gaan oukei wees, ons kom daar,” het Moult, voorsitter van Oudtshoorn en De Rust Toerisme, by die algemene jaarvergadering verlede Donderdagaand (11 Augustus) by die Queens Hotel op Oudtshoorn gesê.
“Ons het ’n oneindige lys van goed wat ons doen om plaaslike toerisme te bemark, en dit is besig om vrug te dra. Internasionale besoekers se getalle na Suid-Afrika is ook besig om te groei, met die Indië-mark wat tans baie sterk is.”
Moult het gesê die uitdaging is nou om dié besoekers, wat meestal dagbesoekers is, te kry om op Oudtshoorn oor te slaap.
“Nou moet ons poog om hierdie voete in beddens om te skakel.
“Moenie jou bekommer as jy nog nie ’n styging in besoekersgetalle by jou gastehuis of hotel gesien het nie, dit sal kom, want daar is definitief groei in die bedryf.”
Moult het ook beklemtoon dat samewerking tussen toerismerolspelers in die toekoms van kardinale belang sal wees om besoekers na die Groter Oudtshoorn te lok.
“Ons kan nie slegs op die Kango Grotte staatmaak om mense te lok nie.”
Die belangrikheid van samewerking deur rolspelers in die bedryf om die omgewing en dorp as ’n bestemming te bemark, is ook deur die gasspreker van die aand, James Hassan, verkoops- en bemarkingsbestuurder van Thompsons Tours, beklemtoon.
Volgens Hassan is die “branding” van ’n produk tans uiters belangrik, en móét mense aan Oudtshoorn as ’n handelsmerk begin dink.
“Jy kan nie net jou eie produk, hetsy dit ’n restaurant of gastehuis of self die Kango Grotte is, alleen bemark nie. Toeriste gaan oor die algemeen nie net vir een ding na ’n dorp toe nie. Oudtshoorn moet as ’n bestemming gesien en bemark word.”
Volgens Hassan is dit nou ook meer as ooit belangrik vir toerismeliggame om saam met toer- operateurs te werk, en dat die hele bedryf daarby sal baat.
“Julle moet nou aanpas by die mark. Onthou dat jou tariewe die operateurs ook beïnvloed – moenie nou jou tariewe verhoog omdat die bedryf weer groei toon en besig is om te herstel nie, want jy gaan jouself benadeel en operateurs sal nie met jou wil werk nie. Dit is nie nou die tyd om gulsig te wees nie,” het hy gesê.
• Die nuwe bestuur van Oudtshoorn en De Rust Toerisme is na afloop van die vergadering verkies.
Hulle is Tammy Moult, Johlene du Preez, Alison Moos, Roselle Crafford, Corleen Barnard (Toerisme bestuurder), Shanel Lambrecths, Tiaan Fourie, Lucius Fourie, Willie Immelman, Johan Keller, Pienaar Muller en Jan Venter.
• Lees ook meer oor groeiende syfers en toekomsplanne by die Kango Grotte: Post-Covid-herstel in Wes-Kaap nou ook by Grotte te sien | Die Hoorn.
Besoekersgetalle hier begin weer klim
Die nuwe bestuur van Oudtshoorn en De Rust Toerisme wat verlede Donderdagaand tydens die Algemene Jaarvergadering verkies is, is voor van links Tammy Moult (voorsitter van Oudtshoorn Toerisme), Johlene du Preez, Alison Moos, Roselle Crafford, Corleen Barnard (toerismebestuurder) en Shanel Lambrecths. Agter van links is Tiaan Fourie, James Hassan (gasspreker van die aand, Thompsons Africa), Lucius Fourie, Willie Immelman en Johan Keller. Afwesig: Pienaar Muller en Jan Venter. Foto: Stefan Skapie Goosen