Post-Covid-herstel in Wes-Kaap nou ook by Grotte te sien

Besoekersgetalle by die ikoniese Kango Grotte buite Oudtshoorn is volgens alle aanduidings ook besig om stadigaan te herstel sedert Covid-19 die land lamgelê het.

Die Kango Grotte, seker die grootste toerismetrekpleister in die Suid-Kaap, se sluiting tydens die inperking het nie net die besighede by die Grotte swaar getref nie maar ook die toerismebedryf in die streek.

Mireille Wenger, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, sê daar is duidelike tekens van herstel in besoe­kersgetalle by toerismebesienswaardighede in die Wes-Kaap wanneer Junie 2022 en Junie 2019 – die jaar voordat Covid-19 in Suid-Afrika uitgebreek het – vergelyk word.

Volgens die minister is die Kango Grotte een van die vyf toerismebesienswaardighede in die Wes-Kaap wat die grootste groei in besoekers ervaar.

Kango Grotte slaan steeds besoekers se asems weg!
Oor een ding is daar egter sekerheid: Die Kango Grotte slaan steeds die asems weg van besoekers wat hul dikwels tot sosiale media wend om oor dié natuurwonder te skryf.

’n Vinnige besoek aan Facebook bevestig dit.

Hier is slegs enkele opmerkings van besoekers wat die Kango Grotte sedert einde Junie vanjaar besoek het (anoniem geplaas):
• Adventure tour was ’n belewenis.
• One of the most incredible experiences I have had – so grateful. Leeanne our tour guide sang in the cave, wow!
• Best holidays ever in the Western Cape with the girls. Cango Caves were the highlight for the girls.
• What an astounding creation of God it is!
• The Cango Caves. Mysteriously, beautiful.
• Better to see a place once, than to hear about it a thousand times .

So lyk planne by Kango Grotte na swaar Covid-tydperk

Die waarnemende munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Walter Hendricks, sê met die inkomste by die Grotte wat steeds onder druk is as gevolg van die inperking, gaan daar nogtans aandag geskenk word aan her­stel- en opgraderingswerk daar soos besoekersgetalle styg en fondse beskikbaar raak .

“Gegewe ons moeilike finansiële posisie as gevolg van die impak van Covid-19, gaan dit egter tyd neem voor die Grotte-bestuur grootskaalse kapitaalprojekte kan aanpak.

Kwessies waaraan aandag geskenk sal word, is die heraktivering van die interaktiewe wetenskaplike uitstalling by die Grotte,

’n Nuwe tender vir die bedryf van die winkels op die Grotte-perseel sal ook eersdaags geadverteer word.

Klagtes oor die toestand van die toilette, videosaal en interaktiewe wetenskaplike ruimte, toon duidelik dat die munisipale fondse daar onder druk is.

Hendricks sê die netheid van die toiletgeriewe is ’n voorrangsaak omdat dit die algehele ervaring van besoekers beïnvloed.

“Gedeeltes van ons toiletgeriewe by die Kango Grotte is oor die voorafgaande drie jaar opgeknap, met verdere opknappings wat steeds gedoen moet word.

“Met die toename in besoekersgetalle, skep die verhoging in inkomste vir ons nou die geleentheid om op ’n beperkte skaal instandhouding te kan doen.” (Deur Liesel le Roux)