Skorsing van drie raadslede van Kannaland deur Bredell ondersoek

Jeffrey Donson. Foto: Deon Meyer

DIE skorsing van drie Icosa-raadslede van Kannaland, Jeffrey Donson, Werner Meshoa en Hyrin Ruiters, geniet tans die aandag van die Wes-Kaap-se departement van plaaslike regering se regsafdeling.

Volgens Wouter Kriel, woordvoerder van Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sal Bredell moet besluit of die skorsings wettig en binne die raamwerk van die gedragskode vir munisipale raadslede geskied het.

“Hierdie is ’n ernstige saak en kan ingrypende gevolge inhou vir die betrokke raadslede.”

Kriel sê Bredell en sy departement hanteer die situasie versigtig en met die nodige aandag wat dit verdien.

Die drie raadslede is op 29 Julie 2022 tydens ’n vergadering van die Kannalandse munisipale raad geskors op grond van ’n verslag wat opgestel is deur die speaker, Rodge Albertus.

Albertus het bevind die drie raadslede het die gedragskode van raadslede oortree deur hulle skuldig te maak aan die onwettige, vrugtelose en verkwistende besteding van openbare fondse. Dit sluit beweerde reis- en verblyfbedrog in.

Donson, leier van Icosa, het die skorsing as ’n boendoehof-optrede en as onwettig bestempel. (Deur Deon Meyer)