OUDTSHOORN se ekonomie gaan ’n geskatte R70 miljoen per jaar verloor wanneer die Aifa-vliegskool sy deure vir studente einde November sluit. Dié vliegskool is sedet 2011 op die dorp.
Die sluiting is die gevolg van die wêreldwye impak wat die Covid-19-pandemie op die lugvaartbedryf en ook die ekonomie geh ad het en nog het.
Pikkie Siebrits, uitvoerende hoof van Aifa op Oudtshoorn, sê die pandemie se uitwerking op die wêreld se lugvaartbedryf het veroorsaak dat dié bedryf met byna 50% gekrimp het.
“Ons lei hoofsaaklik Chinese studente op, maar waar daar in die verlede meer as 10000 Chinese vlieëniers jaarliks opgelei moes word, het die aanvraag nou na sowat 5 000 gekrimp, waarvan byna almal in China self opgelei kan word,” sê hy.
Volgens Siebrits moet Aifa sowat 160 studente per jaar oplei om ekonomies lewensvatbaar te wees. Hulle ontvang egter in April 2021 slegs 50 studente, wat beteken dat alle opleiding by Beaufort-Wes sal geskied.
“Teen Maart volgende jaar sal ons nie meer drie basisse kan oophou nie. Die infrastruktuur in Beaufort-Wes is deur ons daargestel, en dit maak deel uit van ons besluit om alle studente in die toekoms daar op te lei.”
Aifa het tans 178 studente wat op Oudtshoorn, George en Beaufort-Wes opgelei word. Die 47 studente van Oudtshoorn wat in April klaarmaak, sal volgens Siebrits weens ekonomiese redes van einde November op George opleiding ontvang. George laat ook opleiding in nagvlugte toe, wat nie meer op Oudtshoorn toegelaat word nie.
Hoewel die George-basis volgens Siebrits in Maart 2021 ook sluit en die oorblywende studente Beaufort-Wes toe gestuur sal word, sê hy dat George nie die ekonomiese impak so erg sal voel soos Oudtshoorn nie.
“Die opleiding wat hier wegval, beteken dat 66 van ons Oudtshoorn-personeellede hul werk einde November verloor. Ons moet ook onthou dat honderde studente jaarliks hier blykplek moes huur, van kos voorsien moes word, hul inkopies hier gedoen het en dat al ons voertuie hier brandstof gekoop het en hier versien moes word.”
Aifa sal vanaf Desember nog ’n kantoor op Oudtshoorn hê. Tfasa, ’n aandeelhouer in Aifa, word nie deur die verwikkelinge geraak nie.
Siebrits sê hy sal die situasie meer in diepte verduidelik tydens ’n netwerkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer vanaand.
Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, sê die sluiting van Aifa op Oudtshoorn is ’n groot skok vir die sakesektor en eko- nomie van Oudtshoorn. “Eerstens is ons saam met Aifa jammer dat omstandighede hulle genoodsaak het om dié moeilike besluit te neem. Tweedens moet ’n mens vra hoekom dit die Oudtshoorn-tak is wat gesluit word. Want daarin lê ’n kritiese ontnugtering wat Oudtshoorn in die oë sal moet staar en eienaarskap van moet neem op alle vlakke.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
1 Comment on "Aifa-sluiting ’n terugslag vir dorp se ekonomie"
Comments are closed.
Disn verlies wat Se die raad is daar nie n teen foeter nie Kan hulle nie iets doen nie