Nog ‘n ekonomiese terugslag met SWD-kriekethoofkantoor wat ook uit dorp skuif

Hier van links is Chris Mcpherson, (burgemeester), Pikkie Siebrits (uitvoerende hoof van Aifa), Albertus Kennedy, (uitvoerende hoof van SWD Krieket) en Jaco Vorster (voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer) Donderdagaand by ’n netwerkaand van die Besigheidskamer. Foto: Stefan Skapie Goosen

Deur Stefan Skapie Goosen
NA die aankondiging vroeër vandeesweek dat die Aifa-vliegskool op Oudtshoorn hul deure vir studente einde November sluit – ’n groot ekonomiese terugslag vir die dorp – het SWD Krieket Donderdagaand aangekondig dat hul hoofkantoor ook uit die dorp geskuif gaan word.

Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD Krieket, het dié aankondiging by ’n netwerkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer wat op die Oudtshoorn Sportterrein (Rec) aangebied is, gemaak.

Volgens Kennedy is talle hoëprofiel-wedstryde oor die jare op Oudtshoorn gespeel en is die realiteit dat dit baie swak ondersteun is. “Strategies maak dit net vir ons meer sin om George toe te skuif,” het hy gesê.

“Die George Munisipaliteit is baie opgewonde daaroor om SWD te huisves,” het hy gesê.

Kennedy het nie ’n presiese datum vir die verskuiwing verstrek nie.