Vyf handgemaakte moet-hê-komberse uit die Klein Karoo word vandag en môre (Maandag en Dinsdag, 26 en 27 Oktober 2020) deur Karen Zoid op Facebook opgeveil. Dié komberse, gehekel deur Monica Vorster, Lizbe Strydom, Yvette Conradie en Charline Stuurman, maak deel uit van die KKNK se ReWOLusie-projek, waartydens Oudtshoorn se strate in 2019 en 2020 met kleurvolle wolkomberse en ander wolkunswerke versier is.
Zoid het sedert die aanbreek van die grendeltyd verskeie suksesvolle kunsveilings aangebied en gebruik haar platform dié week om die ReWOLusie-projek te ondersteun. Die veiling se opbrengs sal vir liefdadigheidsprojekte gebruik word.
Die vyf komberse is deur vier vroue van Oudtshoorn gehekel.
Monica Vorster, wat al hekel vandat sy sewe jaar oud is. Sy sê sy dink beslis hekel is verslawend.
Lizbe Strydom sê haar passie vir hekel het haar deur ’n moeilike tyd gehelp. “Ek het hierdie kombers wat opgeveil word, gehekel toe ek my broer verloor het.”
Yvonne Conradie het haarself in graad 7 leer hekel en doen dit nou bykans 40 jaar. “Hekel is vir my lekker. Ek sien elke dag uit daarna om op te staan en te begin hekel.”
Twee van Charline Stuurman se komberse word opgeveil. “Hekel is vir my ’n bron van inspirasie. My passie is vasgevang in ’n bol wol en ’n hekelnaald. Dit bring my kreatiewe kant na vore. Ek hou daarvan om deel te wees van gemeenskapsprojekte.”
Vanjaar het die reWOLusie-projek ook ’n daadwerklike verskil gemaak in die gemeenskap. Oudtshoorniete het komberse gehekel en geskenk waar daar nood was in die Oudtshoorn-omgewing, onder meer aan inwoners van Helen Bellinghanhof, Coronation Memorial, Eljada Nasorg, ACVV De Rust en ook individue. Die Oudtshoorn Hospitaal en Toekomsrus Kliniek het komberse ontvang om aan mammas met nuwe babas uit te deel en daar is verder gehelp om nood by kerke en in die gemeenskap te identifiseer. Komberse is só ook in Dassieweg uitgedeel.
• Enigiemand wat ’n bydrae wil lewer tot dié besonderse gemeenskapsprojek – van skenkings van wol, fondse om wol en penne mee aan te skaf, tot deur saam te begin brei en hekel vir 2021 se projek – kan Daleen Witbooi kontak by 044 203 8600, e-pos by info@kunste.org.za.
Besoek www.facebook.com/rewolusie vir meer inligting.