Waterbeperkings aangepas – tuinslang in die hand en sproeier ook toegelaat

Die Raubenheimerdam tans. Foto verskaf

DIE Oudtshoorn-raad het Woensdag (28 Oktober) die huidige vlak 4-waterbeperkings in Oudtshoorn met onmiddelike effek aangepas nadat die Raubenheimerdam se vlak tot 78% gestyg het as gevolg van onlangse reën en sneeu.

Die belangrikste verandering en een waarvoor veral die dorp se ouer inwoners gevra het, is dat tuine nou ook met ’n tuinslang in die hand of met ’n sproeier natgelei kan word. Dit is dus nie meer nodig om swaar gieters en emmers vol water aan te dra om ’n tuin nat te gooi nie.

Met die warm somermaande wat vir die Klein Karoo voorlê en voorspellings dat die droogte nog nie verby is nie, moet waterbesparing steeds voorgaan, sê Chris Swart, waarnemende direkteur tegniese dienste.

“Die reënval die afgelope vier jaar was ver onder die gemiddeld en dit is nie raadsaam om waterbeperkings op te hef voordat die reënvalpatroon normaliseer nie. Sekere toegewings word egter gemaak om die las op die Oudtshoorn-gemeenskap te verlig.”

Die aangepaste beperkings is onder meer:
• Tuine met munisipale drinkwater mag slegs tussen 06:00 en 08:00 asook tussen 18:00 en 20:00 op alternatiewe dae natgelei word, met ’n tuinslang in die hand of sproeierstelsel.
• Slegs ’n emmer – en nie ’n tuinslang nie – mag gebruik word vir die was van voertuie met munisipale drinkwater. Dieselfde geld vir die was van geplaveide, beton- of geteerde oppervlaktes en strukture.
• Die volmaak van privaat-swembaddens met munisipale drinkwater is toelaatbaar, onderhewig daaraan dat die swembad bedek word met ’n nie-deurlaatbare swembadbedekking wanneer dit nie gebruik word nie om verdamping te beperk.
• Geen fonteine ​​en waterfokuspunte word toegelaat nie.
• Die besproeiing van sportvelde, landbougrond, paaie, parke en oop ruimtes met munisipale drinkwater is verbode. Aansoeke vir die natlei van sportvelde vir spesiale geleenthede kan deur die Tegniese Departement vir goedkeuring by die burgemeesterskomitee ingedien word.

Huishoudings word versoek om nie meer as 12 kl per maand te verbruik nie. Indien die vlak van die Raubenheimerdam tot onder 60% daal, sal die beperkings outomaties na vlak 4 terugkeer.

Oortreders kan steeds ’n boete van R1 000 opgelê word.