Droom word waar, sê Phillip Seroux oor sopkombuis

Die sopkombuis en nasorgsentrum in Polisiehoogte. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
“DIT is ’n droom wat waar geword het en iets waarop ek baie trots is.”

So het Phillip Seroux van Polisiehoogte in Bridgton Saterdagoggend gesê met die amptelike opening van hy en sy vrou, Susanna, se nuwe sopkombuis en nasorgsentrum op hul erf.

Volgens Seroux het hulle in April vanjaar gereageer op ‘n beroep van RSG op mense om in hul gemeenskappe betrokke te raak met die Covid-19-pandemie en ’n helpende hand uit te reik na behoeftiges.

“Ons het besluit om iets vir die kinders van die buurt te doen wie se ouers tydens die inperking nie gewerk het nie. Aanvanklik is die sopkombuis vanuit ‘n kerkgebou bedryf.

“Na sowat ses maande het ons besluit om borge te soek en ‘n klein sentrum op ons erf te bou en die sopkombuis uit te brei tot ‘n nasorgsentrum en kinders meer te gee as ‘n bord kos.

“Die Here het dit op my hart gelê en ek is dankbaar vir mense wat in my lewe gekom en mildelik bygedra het tot die verwesenliking van ons droom.

“Dit is vir my ‘n riem onder die hart om vir die kinders iets te gee om te eet en te sien hoe hulle dit geniet,” sê Phillip.

Volgens Franzu Badenhorst van Famsa Karoo, wat sedert Aprilmaand betrokke is by die projek, sal Famsa gereelde programme by die sentrum aanbied waar kinders geleer sal word van familiewaardes en verhoudings.

“Ons wil kinders ook leer om hul drome na te streef en te sien realiseer,” sê Badenhorst.

Volgens Morné Pietersen, stasiebestuurder van Eden FM, is die sopkombuis en nasorgsentrum ‘n saad wat gesaai is. “Hierdie is nie ‘n gewone sopkombuis nie en ons kan nie hier ophou nie. Die kinders moet elke dag iets kry om te eet.”

Seroux het al die borge bedank vir hul belegging in die gemeenskap van Polisiehoogte en omgewing. Hy kan vir enige skenking of finansiële bydrae geskakel word by 079 987 9486. Die sentrum is van Maandae tot Vrydae vanaf 10:00 oop.