
Dit is al redelike algemene kennis dat Afrikaans op 8 Mei 1925 in die destydse parlement as amptelike landstaal naas Engels aangekondig is.
Die groot rol wat CJ Langenhoven in hierdie proses gespeel het, word ook wyd erken en is deel van die groot landswye vieringe op 8 Mei.
Alhoewel Afrikaans nog relatief ʼn jong taal is, het dit geweldig gegroei, verander, aangepas en vriende en vyande gemaak.
Die volgende interessante “eerstes” in Afri-kaans word met erkenning aan die FAK se webtuiste https://fak.org.za, gegee:
- 1925: Onder die minister van binnelandse sake, D.F. Malan, word Afrikaans op 8 Mei ten volle, saam met Engels, as amptelike landstaal erken.
- 1926: Die besluit word geneem dat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) met staatsteun opgestel sou word. Die WAT word steeds uitgebrei met nuwe woorde.
- 1926: Die eerste speurverhaal in Afrikaans, Donker spore, deur CJ Langenhoven verskyn en skep ’n splinternuwe genre in Afrikaans. Met sy meer as 50 werke het Langenhoven mense in Afrikaans aan die lees gekry.
- 1928: Die eerste maatskaplik-wetenskaplike verslag in Afrikaans, Die Carnegie-verslag, verskyn. Dit het vyf afdelings bevat: Ekonomiese-, Psigologiese-, Onderwys-, Mediese- en Sosiologiese verslae.
- 1929: Die Federasie van Afrikaanse Kultuur-vereniginge (FAK) ontstaan in Bloemfontein tydens ʼn kongres wat deur ongeveer 300 afgevaardigdes van verskillende kultuurorganisies oor die hele land bygewoon is en daar besluit is om kragte saam te span.
- 1930: Die eerste tweetalige Afrikaans-Engelse woordeboek verskyn.
- 1931: Die eerste Afrikaanse klankrolprent, Moedertjie, verskyn. Dit was 32 minute lank en ʼn verwerking van JFW Grosskopf se eenbedryf In die wagkamer. Ongelukkig was die filmregisseur Engels wat nie veel Afrikaans kon verstaan nie. Die draaiboek moes toe in Engels vertaal word en later nadat dit deur hom verander is, weer na Afrikaans.
- 1931: Die FAK loods ’n kompetisie om ʼn Volkslied vir Suid-Afrika te kry. Die Stem van Suid-Afrika wat Langenhoven in 1921 as ʼn gedig geskryf het, word uit al die inskrywings as die volkslied gekies.
- 1932: Alhoewel die heel eerste Afrikaanse hofuitspraak in 1925 deur regter De Waal gelewer is, is Afrikaans eers as regstaal gevestig op 27 Oktober 1932 toe regter Willie Beyers sy uitspraak in die Appèlhof in Bloemfontein in Afrikaans lewer. Tot 1938 was 49 van sy 51 uitsprake in Afrikaans ongeag watter taal die partye gepraat het.
- 1933: Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling verskyn en word ook waarskynlik die eerste blitsverkoper in Afrikaans met meer as 70 000 eksemplare wat opgeraap word.
- 1935: Die eerste toneel-vereniging, Ons Teatertjie, in Afrikaans word in Pretoria gestig en word later Die Volks-teater-Vereniging.
- 1937: Die eerste FAK-Volksangbundel verskyn asook die eerste uitgawe van die koerant, Die Transvaler.
- 1941: Musiekgroepe soos die De Vos-broers, die Groblers en die Briels stel hulle musiek vry. Die Briels was van die eerste sanggroepe wat hul eie liedjies gekomponeer het en nie Engelse vertalings gesing het nie.
- 1943: Die eerste Afrikaanse Kinderensiklopedie in 12 volumes word uitgegee. Die laaste volumes het in 1983 verskyn. In dieselfde jaar word die beginsel van moedertaalonderrig op skool aanvaar en word moedertaalonderrig in Afrikaans in Natal gevestig.
- 1944: Die volledige Afrikaanse Psalms en Gesange vir die NG en Hervormde Kerke verskyn.
(Feesvieringe van Afrikaans100 vind Donderdag, 8 Mei by Arbeidsgenot plaas. Sien program https://www.diehoorn.com/nuus/afrikaans100-by-arbeidsgenot/). (HANNES VISSER)

Die Briels. Foto: Spotify

Die eerste speurverhaal in Afrikaans. www.kakkerlak.co.za

Arbeidsgenot. Foto: www.oudtshoorninfo.com