
Dit was nie net die inwoners van De Rust en Nahkesha Stuurman en haar ma, Nadine, wat verlede week opgewonde en dankbaar was dat Dr André Hattingh (Doc) en sy donkies hulle rit van 500 km afgehandel het nie.
Die grootste dankbaarheid was waarskynlik dié van Doc en sy vier spanlede, Braam le Roux, Wilhelm de Swardt, Deano Harmse en John Booysen wat die hele 18 dae teen’n slakkepas meegemaak het. Braam en Wilhelm het die twee ondersteunigs- voertuie bestuur terwyl Deano en John die ses donkies moes versorg.
Die spannetjie het verlede Donderdag, 24 April, onder groot toejuiging voor die De Rust Hotel aangekom. Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, was teenwoordig toe die spesiale “buggie” aan die serebraal gestremde Nahkesha oorhandig is.
’n Groepie kinders kon nie wag om wortels en appels vir die donkies te voer om hulle ook te verwelkom nie. Op ’n vraag aan Doc oor hoe hy voel, het hy gesê hy weet nog nie, want daar is plekke op sy lyf wat hy nie meer kan voel nie.
Die buggie wat teen bykans R85 000 deur Pe-diatric Care Africa aangekoop is, sal Nahkesha se ouers in staat stel om haar te laat sit terwyl sy versorg word en hulle sal haar ook daarmee kan vervoer.
In ’n WhatsApp-boodskap aan mense wat die projek ondersteun het, het Doc hierdie week gesê: “Ons wil baie graag vir julle baie dankie sê vir julle ondersteuning met ons heel eerste Donkeys Delivering Dreams 500 km donkiekarrit deur die Klein Karoo om fondse in te samel vir kinders met serebrale- en ander ernstige fisiese gestremdhede. Sonder julle hulp was hierdie rit nie moontlik nie.”
Hy het ook gesê dat hulle nie net die rit voltooi het nie, maar in die proses ook die lewenskwaliteit van ’n dogtertjie van drie, geweldig verbeter het. Hy het ook gesê dat dié rit jaarliks in April onderneem sal word. (HANNES VISSER)

Dr André Hattingh met Nahkesha op sy heup.