Afrika kry R2 000 borg

Bo: Boutros Boelie May is na bewering op 12 Februarie vanjaar deur Felicia Afrika (bo) met ’n skerp voorwerp gesteek. Hy is later oorlede. Onder: May se familie voor die Oudtshoorn Landdroshof met ’n vorige hofverskyning van Afrika. Foto’s Die Hoorn Afrgief

DIE 24-jarige Felicia Afrika wat van moord op die rugbyspeler, Boutros (Boelie) May (29) aangekla word is verlede Donderdag in die Oudtshoorn landdroshof op borg vrygelaat.

Landdros Stephanie Strydom het borgtog van R2 000 aan Afrika toegestaan nadat sy bevind het dat geen bewyse voor die hof is dat die appellant, met getuies sal inmeng, hulle probeer intimideer, die regstelsel of borgtogstelsel sal belemmer of ’n geneigdheid het om misdaad te pleeg nie.

Sy is ook ’n eerste oortreder en het geen ander hangende sake teen haar nie.

Daar is ook geen bewyse voor die hof dat sy sal vlug en nie vir haar verhoor hof toe sal kom nie.

Die hof het ook die “nuwe inligting” wat die staat voorgelê het, as irrelevant bevind en beklemtoon dat dit ’n Skedule 5 en nie ’n Skedule 6 borgtogaansoek is nie.

Afrika sê nie in haar verklaring dat sy geregistreer het om aan die Robert Sobukwe Akademie te studeer nie maar dat sy van voornemens was om daar te gaan studeer.

Oor ’n bakleiery in die tronk waarby sy betrokke was sou dit volgens die landdros wys gewees het van die staat om ’n korrektiewe beampte daaroor te laat getuig.

Die besoeke in die tronk deur die applikant se kêrel wat ’n staatsgetuie is, kan ook nie ’n aanduiding wees dat die applikant met staatsgetuies sal inmeng nie.

Die landdros het oor die staat se betoog gesê, dat die gemeenskap beskerm moet word. Daar word so maklik vergeet die gemeenskap is nie net aan die een kant nie. “Daar is ook ’n deel wat wil sien dat die beskuldigde borgtog kry. Sy kom uit dieselfde gemeenskap en is ook ’n dogter, ’n familielid en ’n vriend”.

Die hof het ook bevind dat die ondersoekbeampte, ao Morné Janse van Rensburg, se verklaring dat die applikant staatsgetuies sal beïnvloed geen gronde het nie.

Wat die getuienis van die stigter van Oudtshoorn Community Against Crime, Leon Campher, betref, het die landdros gesê, hy geloof moet word vir die inisiatief om so iets te begin maar dat sy aksies in konteks geneem moet word wat die borgtogaansoek betref.

Dit is veral skokkend dat hy as gemeenskapsleier nie na die polisie gegaan het toe hy van doodsdreigemente teen die applikant gehoor het nie.

Hy was volgens die landdros die eerste persoon wat nuus oor die moord op sosiale media bekend gemaak het, en het in die hof gesê dat hy sy hande sal was indien iets met die applikant gebeur sou borgtog aan haar toegestaan word.

“Die gesegde lui dat die pen magtiger is as die swaard en dit is so waar. Sosiale media het ’n monster geword met mense wat agter hul rekenaars en selfone skuil, en dinge sê wat hulle nie persoonlik sal sê nie.”

Die hof het bevind dat Afrika haar van haar bewyslas gekwyt het en borgtog toegestaan.

Afrika se borgvoorwaardes is soos volg:

  1. Sy moet by haar pa tuisgaan.
  2. Elke dag tussen 16:00 en 18:00 by die Bridgton Polisiestasie aanmeld.
  3. Nie by verdere misdaad betrokke moet raak nie.
  4. Haar weerhou van die gebruik van dwelms en alkohol.
  5. Alle hof datums bywoon.
    Die saak is vir ’n streekhofbeslissing tot 7 Julie uitgestel.

Die Hoorn het Leon Campher genader vir kommenraar:
Volgens Leon Campher, gemeenskapsleier en raadslid van Oudtshoorn voel hy dat die uitlatings van landdros Stephanie Strydom kommerwekkend is. “Ek is besig om ’n skrywe te rig aan die hoof landdros vir ’n ondersoek teen die uitla-tings wat die landdros teenoor my gemaak het,” het Campher gesê.

8 264 mense het ’n petisie geteken dat hul daarteen is dat Afrika borgtog moet kry, en Campher was slegs hul spreekbuis tydens een van die hof verskynings, het hy gesê.

Die landdros moet volgens Campher ook sy aanhalings in die regte konteks aanhaal, en die uitlating dat hy, Campher, sy hande in onskuld was sou Afrika iets oorkom as sy wel borgtog kry, vertel hy dat sou sy iets wel oorkom hy weer voor die hof sal moet staan omdat hy reeds voel hy het die hof gewaarsku oor die gevare wat vir haar buite mag voorlê sou sy borgtog kry.

Oor die doodsdreigemente sê Campher dat hy afdrukke gemaak het van die dreigemente en dat van dit nie op sy eie persoonlike sosialemedia platforms alleen nie.

Die dreigement en kommentare was op verskeie sosialemedia platvorms gewees. Hy het egter enige dreigemente afgehaal.

Hy wou dit wel onder die hof se aandag bring.

Campher hou ook vol dat hy nie die enigste persoon was wat oor Boutros se moord berig het nie, dit was ook in verskeie koerante, en op andere persone se Facebookbladsye gewees.

“Dis duidelik dat die boodskap wat uitgestuur word is dat misdadigers kan doen net waarvoor hulle lus het, want die landdros tree streng gesproke nie op in die belang van die gemeenskap, of dra ons belange op die hart nie.”

Hy noem dat dit juis die einste gemeenskap is wat hieronder lei, veral met 10 moorde wat die afgelope tyd hier gepleeg is.

“Ek is nie ongelukkig oor die uitspraak nie, ons gaan appel aanteken daarteen, maar ek is wel ongelukkig oor die uitlatings wat die landdros teenoor my, persoonlik gemaak het.”

“Ek tree op namens die gemeenskap as ’n spreekbuis en gemeenskapsleier.”

Die landdros vat mense soos ek aan, en ander persone wat wil opstaan vir ons gemeenskap teen hierdie tipe euwels gaan nie omdat haar optrede baie mense sal afskrik om hierdie tipe werk uit te voer vir die beswil van ons gemeenskappe.” sluit hy af.

Leon Campher sê dat hy ’n spreekbuis is, maar die landdros het hom aangevat en laat voel asof hy ’n moordverdagte is. (Deur Garnett Wicomb)

Campher tydens een van die borgverskynings van Afrika, spreek die gemeenskap toe voor die Oudtshoorn landdroshof. Foto: Stefan Skapie Goosen