Die hartseer en ontydige dood van drie jong mense, van Oudtshoorn, het die Oudtshoorn gemeenskap die afgelope week geruk.
Op Donderdag 15 Junie 2023 kom die tyding dat Jandré Stander (23), voorheen ’n leerder van Langenhoven Gimnasium in Viëtnam tydens ’n ongeluk oorlede is. Stander het in 2017 gematrikuleer. Hy het in Viëtnam gewerk waar hy Engels aan Viëtnamese studente gegee het.
Stander se ouers, Marisa en Gerhard is tans besig om reëlings te tref om so gou moontlik in Viëtnam te kom, maar kon nie teen druktyd verdere inligting aan Die Hoorn gee nie.
In die tweede voorval is Hein Boshoff (27), ook ’n voormalige Gimmie-leerder op Maandag 19 Junie 2023 oorlede. Boshoff het in 2014 gematrikuleer aan Langenhoven Gimnasium.
Boshoff was ’n suksesvolle redakteur van AfriNUUS- nuuswebblad en het vir FiND iT ook gewerk, en in Kaapstad gewoon.
Hy laat sy ma Martina Boshoff en suster Jeanne-Marie Boshoff agter.
Die familie kon nie teen druktyd bereik word nie.
In nog ’n geval is die Cinmarie (Cimi) Zeelie (25), ook ’n oud-Gimmie, Dinsdag 20 Junie oorlede. Sy is Saterdag in die Oudtshoorn hospitaal opgeneem nadat sy gekla het van kopseer en ’n epileptiese aanval gekry het by ’n familielid se huis.
Sy is egter later na die George hospitaal oorgeplaas, waar sy reeds in ’n koma was.
Cinmarie het in Maart vanjaar breinvliesontsteking opgedoen, en dit blyk dat daar bakterië in haar brein agtergebly het, wat tot haar dood gelei het.
Boodskappe van medelye het van oral af ingestroom, en die gemeenskap is versoek om vir haar aan te hou bid, tot op die laaste.
Die asemhalingsmasjiene wat haar aan die lewe gehou het, is egter Dinsdag afgesit nadat sy reeds breindood verklaar is, en sy is ’n rukkie later oorlede.
Cinmarie het twee seuntjies Hakeem (3) en Yazeen (2), en laat ook haar ma en pa Marie en Patrick Zeelie agter, asook haar susters en broer Patricia en PJ asook Louiza Zeelie, wat die gemeenskap heeltyd op hoogte gehou het op sosiale media.
Haar begrafnis vind Saterdag by die NG Park Gemeente om 11:00 plaas.
“My sussie was baie lief vir haar kinders en het absoluut vir hulle geleef. Al het sy min gehad, het sy dit altyd met almal gedeel.” het Louiza Zeelie, Cinmarie se suster aan Die Hoorn vertel. (Deur Angelique Erasmus)
Hartseer tyd vir Oudtshoorn
Van links: Jandré Stander, Hein Boshoff en Cinmarie Zeelie.