BORGTOG is Vrydag (27 Augustus) in die Oudtshoorn Landdroshof geweier aan die vier mans van George wat in hegtenis geneem is in verband met ’n transitorooftog op 19 Julie by ’n vulstasie in Bridgton op Oudtshoorn.
Tydens die rooftog is ’n sekerheidswag van sy vuurwapen en R86000 in kontant beroof.
Landdros Marvin de Vos het bevind die beskuldigdes het besluit om hulle nie teen die aantygings van die ondersoekbeampte te verdedig nie en in plaas daarvan verklarings aan die hof voorgelê. Hy het gesê Simphiwe Matwa, (41), Lwandiso Lento (36) en Masixole Dolomba (27) het nie van die geleentheid gebruik gemaak om te verduidelik waarom hulle in besit was van die vuurwapens en geld nie, terwyl Sakhele Nkabi (36 ), ’n weermagkaptein, nie verduidelik het hoe sy uniform in die Sentra beland het en sy vingerafdrukke op albei die voertuie wat by die rooftog betrokke was, gevind is nie.
De Vos het in ’n lang uitspraak waartydens hy uit verskeie vorige soortgelyke sake aangehaal het, bevind die vier beskuldigdes kan nie vrygelaat word nie omdat hulle met staatsgetuies kan inmeng en ook verbind word met vorige soortgelyke misdade in die Suid-Kaap.
Volgens hom het die staat ’n sterk prima facie-saak teen die beskuldiges met ’n minimum vonnis van 15 jaar tronkstraf wat opgelê kan word indien hulle aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind word.
“Om borgtog toe te staan sal ’n skok wees vir die gemeenskap en daarom is dit in belang van geregtigheid dat die beskuldigdes in aanhouding bly.”
Die vier mans staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie asook die onwettige besit van ’n ongemagtigde vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is.
Matwa, Lento en Dolomba is dieselfde dag as die voorval in hegtenis geneem, terwyl Matwa op 23 Julie in hegtenis geneem is.
Hul regsverteenwoordigers, adv Zukile Mqulo en Bulelani Bans, het die hof versoek om borgtog toe te staan en aan-gevoer die beskuldigdes sal nie vlug nie en enige borgvoorwaardes nakom.
Die staatsaanklaer, adv MP Heyns, het egter borgtog teengestaan en aangevoer die beskuldigdes kan staatsgetuies pro-beer beïnvloed en moontlik vlug.
Die beskuldigdes se regsverteenwoor-digers het ná die uitspraak kennis gegee dat hulle van voorneme is om teen die weiering van borgtog te appelleer.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 18 September uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)
Hof sê nee vir transitoroof-verdagtes
Sakhele Nkabi (36 )