Motorfietsklubs reik uit na Eljada-Kairos

Motorfietsklubs van die Suid-Kaap saam met personeel en leerders van Eljada-Kairosskool op Oudtshoorn tydens ’n oorhandiging van onder meer watertenke en -pype, blaarvoeding, kompos en sporttoerusting vir die skool. Agter laat een van die motorfietsryers tot vermaak van die kinders sy motorfietswiel tol dat die rook trek. Foto: Stefan Goosen

Motorfietsklubs van die Suid-Kaap het Saterdag, 21 Augustus, saamge-staan om ’n helpende hand na Eljada-Kairos Skool op Oudtshoorn uit te reik.

Tussen al die brullende enjins en die kinders se genot, het hulle onder meer watertenke, pype, blaarvoeding, kompos en sporttoerusting aan die skool oorhan-dig as deel van Solidariteit Helpende Hand-motorfietsklub se uitreik in die Wes-Kaap.

Volgens die skool wil hulle graag ’n groentetuin op die perseel aanplant, en sal hierdie skenking die projek ’n goeie hupstoot gee.

Klubs wat die projek, geïnisieer deur NC en Christelle Keyser van Solidariteit, ondersteun het, is Oudtshoorn se Warlocks, Adventist Motorcycle Ministry en Undisputed uit Mosselbaai, Excalibur van George, en die Suid-Kaap Wizards.

Corrie van der Westhuizen, president van die Solidariteit Motorfietsklub, het gesê hulle het besluit om die skool te ondersteun omdat Keyser, voorheen van Oudtshoorn, die skool voorgestel het.

As deel van hul Garden Run, en met behulp van lede se bydraes, kon hulle die skenkings moontlik maak, het Van der Westhuizen gesê. “Maar jy sal sien meeste van die mense hier is nie lede nie, hulle kom van verskeie klubs af. Ons as Suid-Kaapse klubs ondersteun mekaar gereeld met liefdadigheidsprojekte in die distrik,” het hy bygevoeg.

Henry Calitz, adjunk-prinsipaal van die skool, het gesê die skool is baie dankbaar vir die gebaar. “Die kinders wou nog altyd weet of regte bikers lyk soos dié op televisie – met tattoos ensovoorts. Vandag kan hulle sien hoe hulle eintlik lyk, van prokureurs tot dokters,” het hy gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)