Bederfpakkies vir gesondheidswerkers

Van links is Johan Conradie, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak, by Jo-Anne Campher en Abraham Hendricks, werknemers van die Toekomsrus Kliniek.

DIE AfriForum-tak op Oudtshoorn het op 26 Augustus bederfpakkies aan gesondheidswerkers by staatsklinieke op en om Oudtshoorn uitgedeel.

Digby 200 gesondheidswerkers wat by ses klinieke in die Oudtshoorn-omgewing werk, is bereik.

Die pakkies het onder meer gesigsmaskers, sjokolade en Cappucino-kitssakkies bevat.

Hoewel taklede taamlik vroeg by die klinieke op De Rust en Dysselsdorp was, het baie mense reeds begin toustaan ​​en geduldig op gesondheidsorg gewag. Volgens gesondheidswerkers was die meeste van die mense by die verskillende klinieke vir die Covid-19-entstof.

Johan Conradie, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak, sê die organisasie se doel met die pakkies is om gesondheidswerkers vir hul onbaatsugtige diens te bedank.

“Ons wou die gesondheidswerkers op hierdie manier wys ons waardeer dit wat hulle doen. Die pandemie woed al langer as ’n jaar en ons weet nie hoe lank ons ​​nog daarmee sal moet saamleef nie. Dit is ons verantwoordelikheid as gemeenskap om hier­die mense se hande te versterk en hulle aan te moedig om die stryd voort te sit.”

Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid- en Oos-Kaap, het die Oudtshoorn-tak gelukgewens met hul inisiatief.

“Ons aanvaar die werk van hierdie helde as vanselfsprekend en besef nie altyd watter opofferings hulle maak nie. Ons moet hulle ondersteun.”