DIE saak teen ’n man van Oudtshoorn wat van verkragting aangekla word en glo aan tatoeëermerke aan sy gesig uitgeken is, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof tot 15 September uitgestel omdat die staatsaanklaer nie beskikbaar was nie.
Anton Mei word daarvan aangekla dat hy ’n jong vrou wat van ’n partytjie onderweg was huistoe, voorgekeer en verkrag het.
Die vrou het getuig dat die beligting in die straat haar in staat gestel het om die tatoeëermerke onder Mei se oë en aan sy nek te sien, en dat sy hom daarna by twee geleenthede gesien het, voordat hy in hegtenis geneem is.
Volgens haar was die woord “hond” duidelik leesbaar aan sy nek.
Mei ontken die verkragting en sê dat hy baie mense ken met tatoeëermerke aan hul gesigte.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks. (Deur Garnett Wicomb)