Oudtshoorn neem afskeid van agtjarige Aidan Westraad

Aidan Westraad (8). Foto verskaf.

Aidan Westraad (8), ’n graad 2-leerder aan Laerskool Laurus in Oudtshoorn, is Sondag 1 November oorlede nadat hy simptome van breinvliesontsteking getoon het.

Die skool het in ’n huldeblyk gesê Aidan sal onthou word vir sy mooi geaardheid, sy vriendelike glimlag en hoe trots hy op sy skool en maats was. Die skool het sy medelye met sy familie en vriende betuig en gevra dat sy ouers die ruimte gegun word om van hul kind afskeid te neem.

Die familievriendin Chantél Swart, wat Aidan liefderyk “AD” genoem het, het in ’n huldeblyk vertel hoe hulle Vrydag nog saam gelag en grappies gemaak het. Sy het sy Kaapse aksent en sy “superfast” skoene op die veld onthou. Soms, het sy geskryf, het sy sy ma sommer net gebel om sy glimlag te sien.

Sy het ook teruggedink aan sy babadae, toe sy met hom gedans het totdat hy aan die slaap geraak het. Nou, het sy geskryf, is elke herinnering goud werd. “Rus sag, my AD. Tannie is lief vir jou, vir altyd.”

Verskeie inwoners en skole in Oudtshoorn het ook hul medelye met Aidan se familie en geliefdes betuig. Ons by Die Hoorn betuig ons innige meegevoel met Aidan se familie en geliefdes. Ons dink aan julle en dra julle in ons gebede.

Ouers gevra om op simptome te let
In ’n kennisgewing op 1 November het Laerskool Laurus ouers ingelig oor ’n bevestigde geval van meningokokkale meningitis en hulle gevra om dadelik mediese hulp te kry indien hul kind simptome ontwikkel.

Volgens die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand is meningokokkale siekte aanmeldbaar. Gesondheidswerkers volg aangemelde gevalle op om mense te identifiseer wat noue kontak met die pasiënt gehad het en te bepaal wie voorkomende antibiotika nodig het.

Meningokokkale meningitis is ’n vorm van breinvliesontsteking wat deur die bakterie Neisseria meningitidis veroorsaak word. Dié bakterie kan ook ’n ernstige bloedstroominfeksie veroorsaak. Dit kan deur noue kontak met speeksel of afskeidings uit die neus en keel versprei.

Waarskuwingstekens sluit koors, erge hoofpyn, ’n stywe nek, naarheid of braking, sensitiwiteit vir lig, verwarring en buitengewone lomerigheid in. ’n Donkerrooi of pers uitslag kan ook voorkom.

Die siekte kan vinnig vererger. Ouers moet dadelik mediese hulp kry as hul kind simptome toon. Moenie wag totdat al die simptome of ’n uitslag verskyn nie.

Wie benodig voorkomende antibiotika?
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) behoort noue kontakte van bevestigde of waarskynlike gevalle van meningokokkale siekte so gou moontlik voorkomende antibiotika te ontvang.

Dit sluit onder meer mense in wat in dieselfde huishouding woon of direk aan die siek persoon se mond- of keelafskeidings blootgestel is.

Om in dieselfde klas of skool te wees, beteken nie outomaties dat ’n kind dié antibiotika nodig het nie. Gesondheidswerkers beoordeel die aard van die kontak om te bepaal wie behandeling benodig.

Ouers wat vermoed hul kind was ’n noue kontak, behoort so gou moontlik ’n dokter of kliniek te kontak. Indien die kind simptome ontwikkel, moet hulle dadelik mediese hulp kry, selfs al het die kind reeds voorkomende antibiotika ontvang.

Wat is die rol van inenting?
Entstowwe bied beskerming teen bepaalde groepe meningokokbakterieë. MenACWY-entstowwe teiken groepe A, C, W en Y, terwyl MenB-entstowwe groep B teiken.

Meningokok-inenting vorm nie deel van Suid-Afrika se roetine nasionale immuniseringsprogram nie. Ouers wat inenting oorweeg, kan hul kind se immuniseringsrekord met ’n gesondheidswerker bespreek.

Inenting vervang nie voorkomende antibiotika ná noue blootstelling nie. Selfs iemand wat reeds ingeënt is, kan dié behandeling benodig.

Be the first to comment on "Oudtshoorn neem afskeid van agtjarige Aidan Westraad"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*