Heining so gered!

’N GEMEENSKAPSLEIER van die Groter Oudtshoorn, Leon Campher, het met ’n blink plan vorendag gekom om te verseker dat die nuwe betonpalissade-heining​​​​ langs die N12 buite Oudtshoorn herstel en nie verder gevandaliseer word nie.

Campher het sowat twee weke gelede met Roadmac, die konstruksiemaat­skap­py wat die nuwe pad tussen Oudtshoorn en De Rust gebou het, gesels oor ’n oplossing om die vandalisme aan die betonheining te stop. Die betonheining is opgerig om die aangrensende woongebied van die pad te skei

Dertig persone vanuit die gemeenskap is ná die gesprekvoering gekies om ’n werkswinkel oor veiligheid en die belang­rikheid van dié heining by te woon, waarna hulle dan van deur tot deur sal gaan en met die inwoners van Rosevalley, Rosebank en Neppon sal gesels en inligtingbrosjures versprei.

“Die betonheining is daar om almal veilig te hou én veral om kinders en diere uit die besige hoofpad te hou,” sê Campher.

Die plan is voorts dat die heining dan geverf sal word. Inwoners sal byvoorbeeld hul name en handafdrukke van hul kinders op die heining kan aanbring.

“Die heining sal ook gemerk word sodat dele daarvan maklik geïdentifiseer en gevind sal kan word as dit afgesteel word,” vertel Campher.

Inwoners sal tydens die veldtog gewaarsku word dat daar daadwerklik teen mense opgetree gaan word wat heinings, drade en pale steel, asook teen diegene wat dele van die gesteelde heining koop of beskadig.

Campher beoog om dié projek binne twee weke af te handel.
Besighede of persone wat betrokke wil raak en verf, verkwasse en rollers kan skenk, kan Campher kontak by sel 082 958 4348.

“Die doel van dié projek is om te verseker dat die betrokke gemeenskap eienaarskap van die palissade aanvaar,” sê Campher. (Deur Angelique Erasmus)

1 Comment on "Heining so gered!"

  1. Mercy James | 02/04/2020 at 08:58 |

    Dankie vir die innoverende inisiatief, mag u inisiatief ander inspireer om met ander idees ook na vore te kom om die vele ander sosiale kwessies in ons gemeenskappe aan te spreek.

Comments are closed.