Sonder beserings uit wrak

DIE botsing Saterdagaand op Oudtshoorn toe ’n vragmotor met twee sleepwaens deur ’n muur in Voortrekkerweg gebars het, is vermoedelik veroorsaak deur ’n meganiese probleem in die onderstel.

Volgens Piet van Wyk, oorhoofse bestuurder van Groen Erfenis Transport in Swellendam aan wie die vragmotor behoort, is hulle nog besig met ’n ondersoek na wat verkeerd gegaan het.

“Ons wag vir beeldmateriaal van die dash cam, maar weet die botsing was beslis nie die bestuurder se fout nie.”

Van Wyk sê die bestuurder het ’n harde klapgeluid gehoor terwyl hy in Voortrekkerweg gery het. “Daarna het hy geen verdere beheer oor die voertuig gehad nie, en het net alles in sy vermoë gedoen om nie in ’n huis vas te ry nie.”

Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, bevestig dat daar net voor die botsing ’n harde klapgeluid was waarna die vragmotor na links geswenk en deur ’n muur op die hoek van Oxford- en Voortrekkerweg gebars het.  

Die vragmotor was van Swaziland na Kaapstad onderweg en het in ’n westelike rigting in Voortrekkerweg gery. Die botsing het omstreeks 21:00 plaasgevind.

Wonder bo wonder is niemand in dié botsing beseer nie – nie die bestuurder of enige voetganger of inwoner in die omtrek nie. Die bestuurder was alleen in die voertuig.

Die vragmotor is eers Sondagmiddag omstreeks 17:00 weggesleep. (Deur Liesel le Roux)