’N 27-jarige man van Oudtshoorn wat ’n 48-jarige man met ’n graaf geslaan en hy twee dae later gesterf het, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof vir vyftien jaar tronktoe gestuur nadat hy aan moord skuldig bevind is.
Elju-Nick Kock het op Kersdag 2021 vir Abraham May in Campherstraat, Toekomsrus, met ’n graaf geslaan na ’n klipgooiery deur kinders. May is op 27 Desember 2021 in die hospitaal aan sy beserings dood.
Kock het in sy pleitverduideliking erken dat hy die oorledene met die graaf raakgeslaan het maar gesê dat hy nie bedoel het om hom dood te slaan nie. Volgens hom het hy net die graaf rondgeswaai en May per ongeluk getref.
’n Vrou het getuig dat sy gesien het hoedat haar buurman, David Jullies, met ’n graaf uit sy erf gekom het om die kinders daarmee te verwilder omdat hy bang was hulle gooi sy huis se ruite stukkend.
Kock, wat in ’n ander straat woon, het ook op die toneel aangekom en die graaf by Jullies, wat naby die oorledene gestaan het, afgeneem waarna hy May daarmee raakgeslaan het. Streeklanddros Sylvia Mandla het Kock se verweer verwerp en bevind dat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die minimum vonnis van vyftien jaar vir ’n eerste oortreder nie. Kock is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)