Botsing eis tweede slagoffer

John Minnie is Woensdag vroegoggend oorlede, nadat hy en sy vrou Olga op 13 Mei 2023 in ’n ernstige motorongeluk betrokke was. Foto Facebook

– John Minnie sterf ook –

John en Olga Minnie saam met sy tweelingsusters, Lista Reinbach en Christa Fritz. Foto verskaf

HARTSEER nuus het Oudtshoorniete Woensdag-oggend begroet, met die afsterwe van John Minnie (51).

John was saam met sy vrou, Olga, op 13 Mei 2023 in ’n motorongeluk betrokke voor hulle besigheid, Bushman Curios in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn.

John is Woensdagoggend, 14 Junie, om 02:10 in die Oudtshoorn Hospitaal oorlede.

John is na die ongeluk, op die 13de eers oorgeplaas na die George Hospitaal, en daarna na Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad met erge breinbeserings.

Dit het egter later aan die lig gekom dat hy tydens die ongeluk breinskade opgedoen het, en in ’n operasie is ’n groot deel van sy brein verwyder.

Dokters het later aan die familie gesê dat hulle egter niks meer vir hom kan doen nie, en is hy op Saterdag, 10 Junie, na die Oudtshoorn Hospitaal, teruggeplaas.

Die Hoorn het met sy suster, Lista Reinbach gesels.

Sy het aan Die Hoorn vertel dat volgens die dokters John nooit weer sou kon loop, eet of praat nie.

Sy vertel verder dat hulle Saterdag by hom was asook sy seun, John-Pierre Minnie, en skoonsuster, Jackie Minnie.

“Hy het ons herken en ons het by hom gesit en sy hande vasgehou,”

Hy het met hulle probeer praat, maar hul kon nie verstaan wat hy sê nie.

“Hy was egter rustig. Sy toestand het intussen van Sondag af versleg, en ek en Christa (Fritz) het by hom gebly tot hy oorlede is”, het sy gesê.

Volgens Lista gaan John veras word en wil hulle graag hê dat ds Van Schalkwyk hom ook uit die NG Moedergemeente, in Kerkstraat, begrawe, net soos met sy vrou, Olga se begrafnis.

Daar is egter nog geen begrafnisreëlings nie.

John en Olga sou vanjaar 10 jaar getroud gewees het.

Hulle wag nog om te hoor wanneer sy seun, Jeanré, ’n vlug uit Amerika kan kry.

John word oorleef deur sy ouers, Abel en Maria Minnie, albei 87, sy broer Hekkie Minnie, tweelingsusters Lista Reinbach en Christa Fritz, en sy twee seuns, Jeanré Minnie en John-Pierre Minnie. (Deur Lindi Brill)