Moordsaak teen pa en seun uitgestel vir voorverhoor-konferensie

DIE saak teen ’n pa en seun van Bridgton op Oudtshoorn wat van moord aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof vir die voorverhoor konferensie tot 22 Junie uitgestel.

Dit volg nadat die staat geweier het om ’n pleitverduideliking van die seun te aanvaar en die pa die hof meegedeel het dat hy sy eie regsverteenwoordiger wil aanstel.

Die 46-jarige Koos Stuurman, wat 28 vorige veroordelings op sy rekord het, staan saam met sy 20-jarige seun, Stilero Roman, tereg op ’n klagte van moord op die 23-jarige John-Lee Johnson.

Johnson is op 30 Oktober 2021 in ’n winkel in Dassieweg, Bridgton, deur Roman met ’n mes in die nek gesteek nadat sy pa na bewering vir hom ’n mes gegee en gesê het om Johnson te gaan doodsteek nadat hulle die vorige aand in ’n stryery betrokke was. Die hof het tydens Stuurman se borgaansoek van die ondersoekbeampte verneem dat Stuurman glo hande geklap het nadat sy seun Johnson gesteek het.

Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, het geweier om Roman se pleitverduideliking te aanvaar.

Hy pleit onskuldig op die aanklag van moord en wel skuldig aan strafbare manslag te aanvaar. Die oorledene se familie is ook nie daarvoor te vinde nie en sy versoek die hof om met die verhoor voort te gaan.

Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni wat die wyse van Stuurman se optrede in die hof as onbeskof bestempel het. (Deur Garnett Wicomb)