



DAAR heers tans groot kommer oor die toename in motorongelukke wat die afgelope tyd in en om Oudtshoorn toeneem. Die afgelope twee weke alleen was daar vyf ongelukke wat Die Hoorn van verneem het. In die nuutste voorval, was ’n polisievoertuig en ’n minibus-taxi vroeg Woensdagoggend in ’n botsing betrokke.
Die ongeluk het by die Langenhovenweg en Rademeyerstraat-kruising plaasgevind. Verskeie persone is beseer en na die hospitaal geneem vir behandeling – onder andere drie polisiebeamptes. Die omvang van hul beserings kon teen druktyd nog nie vasgestel word nie. Daar is egter ’n navraag aan die Oudtshoorn Polisie gestuur.
Op Dinsdag was daar twee ongelukke, die eerste was ’n skoolbus van die Eljada-Kairos Skool. Die bussie is deur ’n ander voertuig getref in Langenhovenweg. Geen kinders of volwassenes in beide voertuie is beseer nie.
Die skoolprinsipaal, Hennie Baartman was oomblikke later op die toneel en het gesê dat al die kinders veilig by die skool is en deur die skoolsielkundige behandel sal word vir moontlike skok. Die tweede voorval op die dag het ’n man na bewering flou geraak terwyl hy bestuur hy en het in ’n paal voor die polisiestasie in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn vasgery. Hy is per ambulans hospitaal toe geneem.
’n Vrou van Oudtshoorn wat Vrydag (9 Junie) met haar voertuig in die kanaal wat die Rooiheuwelpad kruis beland het nadat sy na bewering vir ’n trok wat die draai gesny het uitgeswaai het, het geen beserings opgedoen nie.
Anneline Goliath het Woensdag vir Die Hoorn vertel dat sy steeds nie baie wil praat oor die ongeluk nie. Haar blou Ford Fiesta was byna splinternuut. “Ek het so begin lief raak vir my ou blou karretjie toe gebeur dit nou. Ek is net bly ek leef, en ek is nog bietjie seer op die oomblik met bloukolle,” het sy gesê.
Goliath het bygevoeg dat sy glo die Munisipaliteit moet die Rooiheuwelpad verbreed om sulke insidente te voorkom. Trokke ry die pad vol om daardie draai, sê sy.
Een van die mans wat Goliath uit die kanaal gehelp het nadat hy die slag gehoor het, Elton Stuurman, vertel dat hy by die herwinningsaanleg agter die Rooiheuwelpad was toe hy die slag hoor.
“Ek het onmiddelik soontoe gehardloop toe sien ek sy sukkel om uit die kar te klim,” sê hy. Goliath se voertuig het neus eerste in die kanaal beland en die lugsakke wat ontplooi het.
Stuurman sê twee ander mense het hom gehelp om Goliath uit die wrak en kanaal te lig. “Sy was in skok want die kar het begin rook, en sy kon nie baie praat toe ons haar uithaal nie. Ons was bang die kar slaan aan die brand of ontplof. Een van die ander mense het gehelp om haar goed uit die kar te haal soos haar beursie en selfoon. Dit het ons seker so twee minute gevat om haar uit te haal en sy was baie dankbaar,” sê Stuurman.
In die laaste voorval is twee buitelanders ongedeerd nadat hulle bakkie voor Klein Karoo Toyota omgeslaan het. Die voorval het om 21:55 Maandagaand 5 Junie gebeur.
Die bakkie het in Hoogstraat die palissade-heining van ’n huis getref voor dit omgeslaan het. (Deur Stefan Skapie Goosen & Angelique Erasmus)