KAROO Pak, geleë op die plaas Celebratio, se 100% suiwer granaatsap is gekies as een van slegs ’n paar produkte uit Afrika wat aan die einde van die maand aan handelaars en aankopers in Amerika bekendgestel gaan word by die New York Fancy Food Show, die grootste handelskou in Amerika.
Die prys sluit ’n stalletjie by die skou in en die Amerikaanse ambassade reël ook ’n geselligheid waar aankopers van Amerikaanse kettingwinkelgroepe ontmoet kan word. Die uitstalling en besoek word gefasiliteer deur Wesgro.
Die granaatsap word die afgelope paar jaar op Celebratio gemaak en elke 500 ml-botteltjie bevat die sap van tussen 4 en 5 Wonderful-granate.
Karoo Pak stel ook eerskomende naweek Suid-Afrika se eerste granaatdrankie wat geskoei is op ’n tradisionele port-styl naamlik Karoo Pomegranate Rouge by die Calitzdorp Expressed-fees bekend.
Dié unieke produk is deur die portmeesters van Suid-Afrika, De Krans, spesiaal vir Karoo Pak gemaak. Dit is slegs by De Krans te proe en te koop.
Granaatproduk van hier op pad na New York
New York, hier kom ons! Marita Meyer van Karoo Pak sê die aankondiging was ’n reuse-verrassing.
Foto verskaf