Gimmies se hoof vol lof vir matriekklas

Van links: Jannike van Rensburg, Franke du Plooy en Liebe Viljoen.

LANGENHOVEN Gimnasium se hoof, Stephanus Potgieter, is vol lof vir die matriekklas van 2022, hul onderwysers en ook hul ouers. Hy sê dit is te danke aan die skool se algehele benadering tot hoë-gehalte onderwys en doelgerigte voorbereiding dat die bietjie meer as 98%-slaagsyfer moontlik was.

Potgieter meen dat die klas van 2022 uitstekend gevaar het, wanneer mens in ag neem dat 2020 en 2021 glad nie maklike jare was nie. Die klas moes deur ’n pandemie werk, gepaard met beurtkrag en ander uitdagings. Hy sê dat dit te danke is aan hul en hul onderwysers se besonderse harde werk en ekstra ure en klasse dat die uitslae so goed lyk.

“Dit moet ’n gerustelling vir elke ouer op die platteland wees, dat jou kinders die beste opvoeding en ondersteuning hier by ons sal kry. Elke kind, onderwyser en ouer moet die eer kry vir hierdie uitstekende uitslae. Dit bewys ook Langenhoven Gimnasium se toewyding aan gehalte-onderwys.

Ons maak seker elke kind, maak nie saak op watter vlak hy of sy is nie, word so ver moontlik ondersteun.”

Die 2022 Gimmie-matriekklas spog vanjaar met vier leerders wat ’n bo 90%-gemiddelde behaal het in die nasionale senior eindeksamen. Van eerste tot vierde is Tanya Smit (94.86%), Franke du Plooy (92.86%), Jannike van Rensburg (91.43) en Liebe Viljoen (91%).

Franke (18) het sewe A-simbole in die eindeksamen behaal, in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe, Rekeningkunde, Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal en Lewensoriëntering.

“Ek gaan vanjaar medies swot aan die Universiteit van Bloemfontein. Ek het ’n groot passie vir mense en gesondheid. Ek wil mense graag help om gesond, en gelukkig te wees; dus in elke aspek van hul lewe te floreer!”

Franke was verlede jaar ook hoofmeisie, en het tesame met Tanya die veelsydigheidsleerder-trofee gedeel.

Haar ma, Elsabé du Plooy is ’n onderwyseres by Eljada Kairos en pa Francois is ’n predikant.“Baie dankie aan my familie, elke onderwyser, leerders en mentors wat tyd, kennis en lewenslesse in my lewe gedeponeer het,” voeg sy by.

Jannike (18) het, nes Franke, sewe A-simbole behaal in Wiskunde, Besigheidstudies, Rekenaar Toepassingstegnologie, Rekeningkunde, Afrikaans, Engels Eerste Addisionele Taal en Lewensoriëntering.

Hierdie meisie het ’n kop vir syfers, en gaan BSc Aktuariële Wetenskap studeer by Noordwes-Universiteit. “Ek hou daarvan om met syfers te werk en van al die beroepe wat met syfers werk, het dié een my die meeste geïnte-resseer,” bieg sy.

Buiten skool hou sy haarself baie aktief. “Ek hou daarvan om tyd saam met geliefdes te spandeer. En swem, lees en draf geniet ek ook!” Op skool was sy ook deel van die matriekraad.

Pa en ma, Jacques en Irene van Rensburg is beide verbonde aan die Oudtshoorn Polisie.
Liebe het die ongelooflike taak om agt A-simbole te kry, vermag! Haar vakke was Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe, Ingenieursgrafika en -ontwerp, Rekenaartoepassingstegnologie (RTT), Lewensoriëntering.

Sy gaan vanjaar regte, spesifiek BCom Regte swot aan die Universiteit van Stellenbosch. “Ek glo regte sal vir my uitdaag en ek geniet dit om op my voete te dink.

Sy sê dat sy buiten skool graag lees, “en ek geniet dit ook om musiek te luister. Ek hou ook daarvan om te verf en ek speel nou en dan kitaar en klavier,” vertel sy. Sy was ook deel van die 2022 matriekraad.

Haar pa, De Villiers Viljoen is ’n sakeman; en ma Suzanne ’n boekhouer. (Deur Stefan Skapie Goosen)