Goeie uitslae danksy ondersteuning van ouers, gemeenskap

Bridgton Senior Sekondêre Skool (BSS) se prinsipaal, Phil Mooney (links) en burgemeester Chris Macpherson (regs) saam met BSS se top drie matrieks van 2022. Van links is Jodi Fouché, Jordan Tiemie en Paris Madi. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE prinsipaal van Bridgton Senior Sekondêre Skool op Oudtshoorn was met die bekendstelling van die matriekuitslae Donderdag (19 Januarie) behoorlik in sy noppies met die matriekklas van 2022. Hy het gesê dit is te danke aan die onderteuning van die breër skoolgemeenskap dat die skool ’n slaagsyfer van 80,9% in die nasionale senior eindeksamen kon behaal.

Volgens Phil Mooney, skoolprinsipaal, was die leerders se ouers, tesame met die breër skoolgemeenskap, se ondersteuning van kardinale belang om hierdie uitslae te behaal.

“Ons as skoolgemeenskap is baie trots op dit wat ons matrikulante bereik het, aangesien hulle ten spyte van ’n pandemie, beurtkrag en soveel ander uitdagings steeds presteer het,” het hy gesê.

Die Hoorn het met die skool se top drie matrikulante, Jordan Tiemie, Jodi Fouché en Paris oor hul uitslae en toekoms gesels.

Jordan (17) het met sy eindeksamen twee A-simbole verwerf, in ekonomie (83%) en besigheidstudies (93%). Hy wil graag onderwys gaan studeer en wag tans op terugvoer van die Universiteit van die Wes-Kaap en die Universiteit van die Vrystaat. “My belangstelling in onderwys is lankal reeds geprikkel, veral deur die opbouende opvoeding wat ek in graad 11 en 12 gekry het,” sê hy. Hy sê hy wil die goedheid en guns wat sy onderwysers aan hom betoon het oordra na die volgende generasie.

Jordan bly by sy ma, Berryl Tiemie in De Laanstraat. Sy is ’n huisvrou terwyl sy pa, David Coetzee in Beaufort-Wes werk as kontrakwerker.

Volgens Jordan is dit alleenlik deur krag vanaf die Here en sy ma se ondersteuning dat hy so goed presteer het. “Daar was moeilike tye en uitdagings in 2022, maar as ek terugkyk is ek bly ek het deurgedruk, aangehou en bo uitgekom het. Ek kan net die Here bedank vir die kennis en wysheid wat Hy my gegee het. My ma was wonderlik, en haar getroue ondersteuning het my baie gehelp. Sy het in my geglo, en haar insig was vir my baie belangrik.

Jodi (18) het ook twee A-simbole in die eindeksamen verwerf, in Engels (90%) en lewensoriëntering (85%). Sy gaan aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit studeer. “Ek het ’n liefde vir die menslike liggaam en wil dit graag met diepte bestudeer, asook omdat ek geïnteresseerd is met hoe medikasie die menslike liggaam beïnvloed,” sê die kranige jong wetenskaplike.

Op skool het sy as leier op vele vlakke uitgeblink. Sy was klasprefek in graad 8 en 9, en het in 2022 op die matriekraad gedien. Sy is in matriek ook as die Duxleerder aangewys.
Jodi se ma, Jacoline Coetzee, werk tans by Oasis Oudtshoorn, en haar pa, Christopher Fouché, is ’n gids by die Cango Volstruisplaas.

“Aan die klas van 2023: moet nooit opgee nie! Dit gaan nie altyd maklik wees nie, maar dit gaan ook nie altyd moeilik wees nie. Hou moed, wees sterk, die vrugte van harde werk is soet! Sterkte vir die mees belangrike jaar van jou lewe, jy kan dit doen!”

17-jarige Paris is ’n meisie van min woorde – nogal vreemd as jy in ag neem dat sy ’n A-simbool vir Engels losgeslaan het! Paris het ook in 2022 die Drs Nolan en Charlton Dreyer wiskunde-trofee ontvang. Haar ma Connie Madi is ’n huisvrou, en haar pa Benson Madi is ’n bandsaagoperateur by die abbatoir. (Deur Stefan Skapie Goosen)