Dylan Dreyer struisies no 1

Dylan Dreyer

Die Hoorn het vandeesweek met Hoërskool Oudts-hoorn se Topstudent vir 2022 en nr 1 A kandidaat vir 2022 Dylan Dreyer gesels om meer uit te vind oor sy planne vir die toekoms en hoe hy voel oor hierdie fantastiese prestasie.

Dylan se gemiddelde persentasie was 92,71%, met 8 A simbole en boonop het hy 100% gekry vir Besigheidstudies.

Op ’n vraag oor sy toekomsplanne antwoord hy, “Ek gaan B-rek studeer aan die Universiteit van Stellenbosch.” Om hierdie prestasie te bereik het glad nie sonder sy uitdagings gekom nie.
Gedurende die pandemie in 2020 is Dylan se pa, bekende en geliefde dokter van Oudtshoorn, Dr Nolan Dreyer oorlede wat ’n geweldig traumatiese gebeurtenis was vir hom en sy hele gesin. Hy self het in 2022 vir die tweede keer Covid opgedoen. Nes hy dink dit gaan beter toe word hy twee weke voor die rekordeksamen met tipe1-diabetes gediagnoseer. “Dit was totaal onverwags en het my vir ‘n hele ruk van stryk afgebring. Bo en behalwe die druk van my matriekjaar het dit nog bykomende stres op my geplaas en ek was ook redelik siek.” verduidelik hy. Ek moes ongelukkig iets opoffer om my stresvlakke te probeer verminder, en het toe my plek in die 1ste span hokkie opgegee. Te danke aan my wonderlike ondersteuningsnetwerk, soos my ma, Cindy Dreyer, suster Vanya, my dokter en wonderlike onderwysers, het ek weer my fokus herwin.

Aan sy mede matrieks van Hoërskool Oudtshoorn wil hy met die volgende advies inspireer. “Dit maak nie saak watter struikelblokke oor jou pad kom nie, probeer altyd die silwer rand om die donker wolk sien.”