’N 48-JARIGE man wat Sondag (11 Julie) op pad was van die Oos-Kaap af het in die tronk beland toe sy senuwees hom in die steek gelaat en hy nie sy onwettige vuurwapen en ammunisie vir die Suid-Kaap Blitspatrollie kon wegsteek nie!
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is die verdagte omstreeks 15:30 op die N12 naby De Rust deur blitspatrollielede vasgekeer.
Pojie het gesê dat die bestuurder baie senuweeagtig gelyk het terwyl polisielede die voertuig deursoek het.
Die wapen, ’n 9 mm-pistool, is tydens die deursoeking van ’n voertuig in die man se bagasie gevind.
Hy het nie ’n geldige lisensie vir die wapen gehad nie.
“Die vuurwapen, met twee lewendige rondes in die magasyn, is gekonfiskeer en as bewysstuk ingehandig,” het Pojie gesê.
Volgens Pojie is die man op die toneel in hegtenis geneem en in aanhouding geplaas.
Hy het vandeesweek in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Gespanne man verklik homself
Die vuurwapen. (Foto verskaf)