Covid-maatreëls in plek – munisipaliteit

ALLE Covid-19-maatreëls is in plek en daar word gepoog om te alle tye aan Covid-19-regulasies te voldoen “afhangend van die vlak van inperking.”

Dit is die terugvoer van die Groter Oudtshoorn Munisipa­li­teit op ontevredenheid van werk­nemers van die tegniese dienste-afdeling wat op 6 Julie brandende bande voor die ingang van die munisipale depot in Dassie­weg geplaas het.

Volgens die werknemers was hulle ontevrede oor die “swak” ma­nier waarop Covid-19-maat­reëls in hul werksplek toegepas is.

Ntobeko Mang­qwengqwe, woordvoerder vir die munisipaliteit, sê die munisipaliteit poog deurgaans om leemtes te identifiseer en waar daar tekorte is, dit onmiddellik reg te stel.

“Ons moedig steeds alle personeel aan om enige tekortko­ming aan die bestuur uit te wys, sodat die nodige maatreëls ingestel kan word, want werknemers se gesondheid en veiligheid word as belangrik geag,” sê hy.

Volgens Mangqwengqwe het die munisipaliteit wel voorstelle van werknemers ontvang wat aandui dat hulle skofte wil werk.

“Hierdie aangeleentheid geniet tans die nodige aandag voor­dat ’n finale besluit geneem sal word.

“Alternatiewe prosedures om werkers se kontak met me­kaar te verminder, spesifiek by die tegniese depot, en so addisionele gesondheid en veiligheid van personeel te verseker, geniet tans aandag,” sê hy.

Dienslewering is volgens Mangqwengqwe nie op 6 Julie deur die optrede van die werkers geraak nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)