Jeugforum help Dassieweg skoonmaak

Johnny Baartman (links) en Philip Seroux (regs) van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum, saam met van die jongmense by die sakke vullis wat hulle opgetel het. (Foto verskaf)

DIE Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) in samewerking met Cape Karoo International (CKI), het met ’n projek begin om die gebied langs Das­sieweg tot by die Springbokwegaansluiting skoon te maak. Dié pad lei na die volstruisslagpale en volstruis-leerlooiery, die kantore van Binnelandse Sake en die Bongolethu Polisiekantoor.

Daar gaan gepoog word om die gebied weekliks twee keer skoon te maak.

Volgens OCJF se projekbestuurder, Philip Se­roux, is ’n groep jongmense aangestel wat elke Dinsdag en Donderdag papiere, plastieksakke en ander rommel optel wat dan deur die plaaslike munisipaliteit weggery sal word.

“Ons wil met die projek probeer om ’n skoner omgewing te skep,” sê Seroux. “Die jongmense is baie geesdriftig oor die projek en dit is ’n bewys dat hulle in ’n skoon en gesonde omgewing wil woon en speel.”

Seroux het sy dank teenoor CKI uitgespreek vir hul bereidwilligheid om die projek te ondersteun, teenoor Harold Lekay en die munisipaliteit wat die swartsakke verskaf en wegry, asook teenoor die Trapsuutjies Kleuterskool en Ambrose Ruiters vir hul betrokkenheid.

Hy het voorts ’n beroep gedoen op inwoners wat langs Dassieweg woon om nie sommer net papiere, plastieksakke en ander rommel langs die pad te stort nie, en diegene wat dit doen te rapporteer.

Volgens die uitvoerende hoof van OCJF, Johnny Baartman, kon die forum weens die pandemie sedert verlede jaar geen jeugaktiwiteite loods nie en probeer hulle jongmense met dié projek betrek. (Deur Garnett Wicomb)