Nog 2 nuwe KKNK-projekte!

DIE KKNK is steeds besig om nuwe projekte te loods. Die nuutstes is twee produksies wat nou aanlyn gekyk kan word – die bekroonde verhoogproduksie uit 2012, Samsa-masjien, wat op film verewig is, en die akteur en Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk se eenmanvertoning, Sê groete vir Ma.

Samsa-masjien

Sedert dié produksie in 2012 by die KKNK gedebuteer het, het dit skoonskip gemaak by verskeie toekenningsgeleenthede. Dit het vier KKNK Kanna-pryse (uit ses nominasies) in 2012 ontvang en was ook die groot wenner by die Fleur du Cap-pryse in 2015.

Gregor Samsa (Kamper) en sy vrou (Kellermann) woon op hul oudag by hul dogter (Ilana Cilliers) en haar man (Ludwig Binge). Gregor ervaar ’n stelselmatige insekwording, wat deur sielkundiges, psigiaters en dokters toegeskryf word aan die ouditiewe en taktiele hallusinasies van dementia-lyers. Sy dogter, ’n kopieskrywer, kleur dié verhaal verder in met vertellings aan haar terapeut.

Diane de Beer in Argus Tonight skryf: “As ra­di­kale, baanbreker-teater moet Samsa-masjien een­voudig gesien word. Dié uitspattige en bui­- tengewone produksie is ’n aanslag op die sintuie, terwyl dit jou sienswyse binnedring en verbreed.”
Kaartjies (R150 met 10% afslag aan ATKV- en Kliek-lede) is tot 1 Augustus by Quicket beskikbaar, by https://qkt.io/Samsa-masjien. Ouderdomsbeperking van 18 jaar, weens tonele met seks, naaktheid en sterk taalgebruik.

Sê groete vir ma
Van Wyk vertolk in dié verfilmde drama die rol van Reghardt Roberts van Aswegen wie se hele lewe en menswees om sy ma draai.

Sandra Prinsloo behartig die regie van die drama waar lag en trane baie na aan mekaar lê. Die band tussen ’n ma en haar kind, hul lewensreis saam, die pyn en die onvermydelikheid van oudword en hoe ons soms ons grootste foute kan verdedig, omdat dit uit liefde gedoen is, word hierin verken.

Sê groete vir Ma vertel die storie van Reghardt se vormingsjare (’n sensitiewe kind wat op ’n plaas moet grootword en die dinge van “man wees” en “man word” gou moet kop), sy pa, sy nie-so-slim broer Dewaldt en sy veerpoothoender, Knoop, wat hom van die dood en die pyn en vernedering van tiener-wees geleer het. Dit is ’n storie vir elke lid van die gesin.

Kaartjies (R150 met 10% afslag aan ATKV- en Kliek-lede) is beskikbaar tot 15 Augustus. Koop jou kaartjie by Quicket (https://qkt.io/SegroetevirMa). Ouerbegeleiding word aanbeveel.