Oudtshoorn: Nog entstof vandag ontvang

Covid-19-statistiek vir die Tuinroete Distrik op 14 Julie. Bron: Wes-Kaap Covid 19 Dashboard

DAAR was die eerste deel van vandeesweek wel genoeg entstof op Oudtshoorn om almal met afsprake in te ent, maar nie om al die mense wat net opgedaag het (“walk-ins”) te help nie.

Volgens Helen Human, die Departement Ge­sondheid se adjunk-direkteur verpleging in die Oudtshoorn-subdistrik, was daar sedert Maandag ’n uitdaging met die beskikbaarheid van entstof om almal in te ent, maar word ’n nuwe voorraad entstof vandag (Donderdag 15 Julie) ontvang wat behoort te help om aan die aanvraag te voldoen.

“Ons het vanaf Maandag genoeg entstof gehad vir almal wat ’n tweede sms ontvang en dus ’n afspraak gehad het. Ons het daarna nog ’n klein bie­tjie entstof oorgehad waarvoor ons voorkeur gegee het aan ‘walk-ins’ van 60 jaar en ouer,” sê sy.

Wees geduldig, vra burgemeester
Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, het Maandag ’n beroep op inwoners gedoen om geduldig te wees by inentingslokale.

Enkele inwoners het Maandag op Facebook-bladsye gekla nadat hulle weggewys is by inentingslokale omdat daar nie voldoende entstof vir mense sonder afsprake was nie. Tot voor die naweek was entstofvoorraad in die Groter Oudts­hoorn voldoende sodat die meerderheid inwoners wat net by inentingslokale opgedaag het sonder ’n afspraak, ook gehelp kon word.

Macpherson het bevestig dat hy deur die Departement Gesondheid ingelig is dat slegs ’n beperkte aantal inentings die eerste dae van die week beskikbaar was en nie almal wat net opgedaag het sonder afsprake gehelp kon word nie. “Volgens die departement word prioriteit gegee aan mense van 60 jaar en ouer wat vir hul eerste en tweede inentings kom. Daarna volg inwoners van 50 jaar en ouer met afsprake en daarna die instap-kliënte bo 50.”

Inentingslokale res van die week (15 en 16 Julie)
Dié inentingslokale is vandeesweek nog oop.
Toekomsrus Gemeenskapsaal: 15 en 16 Julie
Blomnek Kliniek (De Rust): 15 Julie
Oudtshoorn Kliniek: 15 en 16 Julie
Calitzdorp NG-kerksaal: 15 en 16 Julie

• Hou Die Hoorn se Facebook-bladsy dop vir inligting oor inentingslokale en datums vir volgende week. Ons ontvang dié inligting gewoonlik oor naweke of die Maandag.

35 en ouer eersdaags ook ingeënt
Mense 35 jaar en ouer kan vanaf vandag (15 Julie) ook registreer vir die inenting en sal vanaf Augustus ingeënt word.

Suid-Kaap: Covid-19-infeksies klim oral
Al die munisipaliteite in die Tuinroete Distrik, Bitou (Plettenbergbaai) uitgesluit, se aantal Covid-19-gevalle het sedert verlede week weer sterk toegeneem, sê Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid in die streek. Bitou het stabiel gebly met die grootste toename in George.

Volgens Ferreira was daar in die sewe dae voor Maandag ’n toename van 56% (1 1225 nuwe gevalle) in vergelyking met die voorafgaande sewe dae – 778 gevalle vir elke 100 000 mense in vergelyking met 580 gevalle vir elke 100 000 mense die voorafgaande sewe dae. 1 520 mense het gesterf.

Staatshospitale in die streek, veral in Oudts­hoorn, Mosselbaai en Riversdal, ervaar ook tans druk as gevolg van nuwe Covid-gevalle. Daar is egter voldoende suurstof beskikbaar.

Munisipaliteit moet gebou sluit
Die gebou waarin die Gemeenskapsienste-afdeling gevestig is, beter bekend as die ou Lemon & Lime Gebou, is Dinsdag deur die Groter Oudts­hoorn Munisipaliteit as gevolg van ’n “Covid-19-insfeksie” gesluit.

Die kantoor sal weer op 20 Julie open. Amptenare sal intussen van die huis af werk en dienslewering sal nie beïnvloed word nie.

Navrae aan die afdeling kan gerig word aan die kiëntediensspan by tel 044 203 3990 of 044 203 3086. (Deur Liesel le Roux)