Onbaatsugtigheid Thiart se passie

Petro Thiart, koördineerder van Oasis Tuisversorgingsdienste op Ladismith. Foto: Deon Meyer

SY is soos ’n hedendaagse Florence Nightingale; altyd bereid om haar roeping bo haar eie behoeftes te stel. Dit is Petro Thiart, koördineerder van Oasis Tuisversorgingsdienste op Ladismith.

In ’n gesprek met Thiart kom jy gou agter dat sy ’n beskeie mens is wat glad nie haar lof besing wil hê nie.

“Ek is ’n verpleegster wat dit geniet wat ek doen en ek wil glad nie daarvoor geprys word nie. Ek put my bevrediging uit die dankbare harte van die pasiënte wat ek bedien,” sê sy.

Thiart het in 1964 afgestudeer aan die Otto du Plessis Kollege in Tygerberg. Sy en haar man het in 1972 na Ladismith verhuis en in Augustus 1973 het sy by Huis Izak van Tonder, ’n tehuis vir bejaardes, begin werk.

As koördineerder van Oasis het sy 12 assistente vir wie sy, in haar woorde, “met groot respek pro­beer leiding verskaf”. Sy glo aan ’n oopdeurbeleid en wil nie hê dat verpleegsters haar moet vrees nie.

Sy vertel sy bestuur self haar voertuig, maar maak van ’n bestuurder gebruik wanneer sy die bedrieglike grondpad na Van Wyksdorp moet aanpak. Tydens die pandemie het sy ook die minder aangename taak om aan mense wat nie telefonies bereik kan word nie, hul Covid-19-status te moet oordra. “Ek sal ook dan ’n woord van bemoediging aan die betrokkenes oordra en hulle inlig hoe om hul dae in isolasie aan te pak, asook die belang­rikheid van isolasie aan hulle uit te wys.”

Thiart se liefde vir haar naaste is duidelik tydens die geselsie met Die Hoorn.

Soos Suefran Killian-Odendaal, Thiart se toesighouer wat net lof het vir haar, sê: “Tuisversorgingsdienste sal beslis baie armer sal wees indien suster Thiart sou besluit om halt te roep.” (Deur Deon Meyer)