
Die geliefde agstemanspeler van die All Blacks Rugbyklub in Oudtshoorn, Sydwell Muller, is verlede Saterdag, na bewering, aan ’n massiewe hartaanval oorlede tydens ’n wedstryd in Sedgefield.
Muller is die seun van raadslid Christine Muller. Volgens sy broer, Rodney Gelant, het die tweede helfte van die wedstryd net begin toe hy tydens ’n uitgee van die bal geval en gesterf het.
Wat die tragiese gebeure nog meer hartseer maak, is dat sy meisie, Nikayla van Niekerk slegs ses dae gelede geboorte geskenk het aan hul seuntjie, Caine.
In ’n plasing op Facebook het die Spring Roses Rugbyspan ’n pragtige huldeblyk geskryf: “In rugby word elke teenstander jou vriend van die veld af. Ons as Roses het groot respek gehad vir sy rugbyvermoë en ook vir die mens wat hy van die veld af was”.
Muller was ’n voormalige leerder van Môrester in Oudtshoorn. Hy was vir 13 jaar in die weermag in Potchefstroom en het ook vir drie maande as sekuriteitswag op ’n skip gewerk. Die laaste tyd het hy by Virgin Active in George gewerk as fiksheidsinstrukteur.
’n Roudiens is Woensdag om 18:00 by die VGK gehou en daar sal Donderdag om 17:00 ’n ‘drive by’ wees vanaf die hv Bergins- en Rossouwstraat. Muller se begrafnis sal op Saterdag, 21 Oktober om 12:00 by die VGK in Bridgton gehou word. (Deur Lindi Brill)