
DIE Kalliklip Vastrappers, van Calitzdorp het op 7 Oktober in Vredendal in die Wes-Kaap aan die ATKV Rieldanskompetisie deelgeneem in die o.20 kategorie, en meegeding teen 13 ander spanne.
Verledejaar was hul deur na die finale rondte in die o.14 kategorie, maar vanjaar was die kompetisie baie straf en daar het meer spanne meegeding.
“Alhoewel ons nie vanjaar deur is na die finale nie, was dit ongelooflik lekker om te sien hoe die kinders dit geniet het, tenspyte daarvan het hulle steeds lekker gelag en hulself baie geniet,” het Jo-Andri Antonie, die spanleier aan Die Hoorn vertel.
Sy is steeds baie trots op haar span.
Tradisioneel is daar agt dansers wat deelneem, vier meisies en vier seuns. “Ons het agt meisies in ons groep, waarvan vir die rolle van seuns vertolk,” verduidelik Antonie.
Rieldans of Ikhabarâ, die oorspronklike naam vir Riel, is seker een van die oudste danssoorte in Suid-Afrika en direk van die Khoisan afkomstig.
Die dans het deel gevorm van feesvieringe wanneer daar ’n suksesvolle jagtog of oes gelewer is, en is om die vuur uitgevoer. Vandag is daar steeds ’n storielyn aan elke dans en beeld die dansers die storie uit met hulle verskillende danspassies.
Rieldansers se kleredrag dra ook by om die era waarin die dans plaasvind te illustreer, en baie temas boots die liefdespel van diere en voëls na.
Volgens ATKV se webtuiste is die askoekslaan ’n baie bekende danspassie, waar die regtervoet gedurende die dans vinnig bo die linkerknie geplaas word. Rieldanspassies het ook ooreenkomste met die Skotse “reël”, ’n tradisionele dans wat in Skotland gedans word.
“Die ATKV Rieldanskompetisie moedig die stig van nuwe groepe, dit moedig gehalte produkte vir die kompetisie en ook vir plaaslike en nasionale feeste, soos die KKNK, die Woordfees ens. Riel speel ’n baie belangrike rol deur kreatiwiteit te bevorder, gemeenskapsbande te versterk, kultuur te bewaar, fisiese gesondheid en geestesgesondheid te verbeter en bevorder, vermaak te verskaf en sosialisering te bevorder en aan te moedig. Ook noemenswaardig is die feit dat dit jong mense besig hou en dien as alternatief tot misdrywe ens.” het Benjamin Bock, koördineerder van die ATKV Rieldanskompetisie aan Die Hoorn gesê.
Die Kalliklip Vastrappers het die storie van Appelkoostyd in die Klein Karoo vertel.
Die dans begin met ’n donkiekar, wat elke jaar tydens die Appelkoos Jamboree, deur die Pretorius egpaar gery word, wat vanjaar weer in November plaasvind.
Daarna probeer twee meisies ’n “seun” beïndruk en die twee stry met mekaar oor wie met die maat gaan dans. Hulle gee hul ook soms oor tot vuilspel, deur sand in die ander se oë te gooi.
Die dansers wat deelgeneem het was Micka Antonie, Alicia Antonie, Melicia Pretorius , Ishlynn Horn, Kayleesha Julies, Mushayla Julies, Doraney Coetzee, Vernolee Antonie, almal tussen die ouderdom van 13 en 19 jaar. Sewe dansers is leerders by Hoërskool Calitzdorp, en saam vertel die mooi van die Klein Karoo in hul storie.
Hulle sal te sien wees by vanjaar se Calitzdorp Jamboree waar hulle gaan optree op 20 November by Die Stasie in Calitzdorp.
“Ek wil graag vir elke persoon bedank wat bygedra het sodat die meisies die kans kon kry om te gaan deelneem aan die ATKV Rieldanskompetisie.” sê Anthony. Plaaslike besighede en inwoners het eetgoed geskenk en die Calitzdorp gemeenskapskas het geld geskenk aan die groep vir die toer.
Vir meer inligting of om betrokke te raak by die Kalliklip Vastrappers, kan gerus Antonie kontak by 063 289 9554. (Deur Angelique Erasmus)