SY is op Oudtshoorn gebore en getoë, maar woon in York, Engeland. Sy was ’n sterleerder aan die Laerskool Wesbank en Hoërskool Oudtshoorn waar sy in 1995 gematrikuleer het, maar weinig mense in haar geboorteland weet van hierdie Suid-Afrikaner wat in 2007 ’n Michelin-ster ontvang het, een van die grootste en gesogste eerbewyse in die koswêreld!
Ontmoet sjef Heléne Schoeman-Mittra!
Die Hoorn gesels die week met haar – oor haar liefde vir kosmaaak, haar Klein Karoo-herkoms, haar ondervindinge in die kulinêre wêreld en natuurlik haar Michelin-ster! Sy is waarskynlik die eerste Suid-Afrikaner wat dié gesogte toekenning ontvang het. Oudtshoorn kan met reg trots wees op haar!
Heléne het in 2007 as hoofsjef by The Greyhound Inn, ’n restaurant in Stockbridge, net buite Winchester in Hampshire gewerk. In daardie stadium was The Greyhound een van slegs agt gastro-pubs in Engeland wat met ’n Michelin-ster-sjef kon spog en was sy boonop die jongste vrou in Engeland wat nog ’n Michelin-ster ontvang het.
Heléne, jy is in die Klein Karoo gebore en getoë. Vertel ons van jou beste Oudtshoorn-herinneringe.
Ek het op ’n plaas in Schoemanshoek grootgeword en in die dorp skoolgegaan. Ek onthou die warmte, daardie wonderlik Klein Karoo-hitte, en ek mis die reuk van die eerste reëndruppels in die Oudtshoorn-stof.
Wat is jou vroegste kosherinnering, en wat was jou gunsteling dis as kind in die Klein Karoo?
My ma het altyd heerlike kos gemaak. Daar was beslis te veel gunsteling disse om nou te noem, maar haar geheime klein resepteboekie is vandag veilig in my arsenaal. My kinders word self Engels groot, maar is mal oor boerebeskuit – iets wat jy nie maklik in Engeland vind nie. Die wonderlikste ding van op die plaas grootword, was dat ons as kinders eenvoudig vrugte kon pluk en kon eet. Ons groente was ook vars uit ons tuin. Min kinders word vandag só groot. Die een ding wat ek vreeslik mis van Oudtshoorn is die smaak wat die Klein Karoo se son aan vrugte en groente gee. Hier in Engeland word so baie van ons vars produkte ingevoer.
Hoe het jy jou weg na die kulinêre industrie gevind? Wie was jou inspirasie en waar het jy studeer?
Ek het na skool by die Silwood Kitchen in Kaapstad hul Classic French Cordon Bleu-program gaan studeer. Gedurende jou studies by Silwood, word jy by verskeie kulinêre instansies geplaas om so al die verskillende style van bekende Kaapse sjefs te ervaar en aan te leer. So werk mens by hotelle, restaurante en selfs produk-ontwikkelingsmaatskapye.
’n Kollega het eendag vir my ’n onderhoud gereël by ’n restaurant in Londen wat aan Marco Pierre White, bekende 3-Michelin-ster-sjef en TV-persoonlikheid behoort het. Ek het dadelik op ’n vliegtuig geklim en die werk gaan kry.
Daar het ek ’n wonderlike groep mense ontmoet en hulle passie vir ongelooflike kos was eenvoudig aansteeklik. Dit was ’n lewe van droomkos, maar min slaap. Daarna het ek vir Richard Neat gewerk; die eerste Britse man wat 2 Michelin-sterre in Frankryk ontvang het. Die lys gaan aan… My leuse was eenvoudig: werk vir die beste van die bestes, want so leer jy by die beste van die bestes.
Vertel ons van jou eie Michelin-ster. Hoe het dit jou lewe en loopbaan verander?
The Greyhound was my eerste hoofsjef-posisie. Toe ek daar oorgeneem het, het ek die styl van die spyskaart totaal verander – ligter en varser, maar steeds met ’n sterk Franse invloed. Dit is tog waarin ek opgelei is. Die oggend met die aankondigings van die Michelin-sterre het my vleisverskaffer my gekontak en gesê: “Baie geluk!” Ek was heeltemal onbewus van my prestasie en het nie geweet waarvan hy praat nie!
Ek dink my spyskaart het die regte aandag getrek omdat ek kos gekook het wat mense nog kon herken in ’n tyd toe meeste spoggerige sjefs se kos identifiseringsparades nodig gehad het! By my het mense geweet wat hulle eet. Elke komponent het ook ’n doel gehad, of dit nou suur of soet was, sag of bros. En alles moes altyd ’n teenoorgestelde hê.
Waarmee hou jy jouself tans besig? Wat beplan jy vir die nabye toekoms?
Ek is vandag ’n voltydse ma van vier pragtige kinders, ouderdomme 9, 7, 6 en 4. Hulle word almal aan kookkuns en interessante bestanddele blootgestel, maar dink beslis nie aldag hulle ma se kos is so wonderlik nie! Daar is egter ’n liefde vir kos in hulle almal en hulle sal sonder skroom iets nuuts probeer. Hulle is veral mal daaroor om ons eie groente en bessies te kweek. Hulle kan ook duidelik die verskil tussen varsgeplukte groente en dié van die winkel af proe. Ek voel dit is uiters belangrik dat kinders moet weet waar hulle kos vandaan kom.
Tussendeur kinders grootmaak is daar af en toe ’n formele ete vir ’n privaat kliënt of ’n verjaardagkoek vir iemand. Klein projekkies vir nou; todat die jongste oor ’n jaar met skool begin. Dan pak ek weer my eie spyseniersbesigheid aan, wat al my aandag sal geniet.
Watter raad sal jy aan jong aspirant-sjefs van die Klein Karoo gee?
Eenvoud spreek boekdele; moenie jou kos te ingewikkeld maak nie. Kook uit die hart en met liefde, dan proe alles sommer beter. Die lang ure word die moeiete werd wanneer jy leë borde en mense met groot glimlagte sien. Aanhou en uithou!
• Helene is die dogter van Annes en wyle Vivienne Schoeman. (Deur Robert Koen)
Gebore Oudtshoorniet met ’n gesogte Michelin-ster!

Mooi so. Sy lyk sommer soos ‘n ware Klein Karoo Maisie. Trots op jou!