Familie het baie vrae ná verdrinking

DIE dood van die vyfjarige Cornelius (Cornie) Draai op Saterdag 4 Januarie in die Bridgton-swembad, het sy familie met baie vrae gelaat terwyl hulle ook sukkel om by ’n lewe sonder die seuntjie aan te pas.

Hy is Saterdag begrawe.

Sy ouma, Daleen Galland, vertel hartseer dat sy Sondagoggend uitgeloop het met ’n bakkie nagereg vir Cornie.

“Toe ek besef hy is nie meer hier nie, het ek amper die bakkie laat val van skok,” sê sy.

Volgens Mieta Draai, Cornie se ma, het haar seun altyd almal laat lag en mis hulle hom baie.

“Al maak hy jou kwaad, is dit nie lank nie en dan gee hy so ’n lekker laggie diep uit sy maag wat jou sommer beter laat voel het.”

Cornie het op 4 Januarie verdrink nadat hy saam met sy ma buite in die son gaan sit het.

Sy sê hy het haar hand gelos en in die swembad beland.

“Daar het ’n man in die swembad gesit, en ek het gedink hy is net ’n swemmer. As ek geweet het hy is ’n lewensredder het ek hom vroeër gevra om my te help soek na my kind,” sê Mieta.

Cornie was die jongste kind van vier en het twee broers, Jumaldré Galland (15) en Franklin Minaar (13), en ’n suster, Bebro-zay Galland (13).

Die Oudtshoorn Polisie doen tans ’n geregtelike doodsondersoek na die verdrinking.

Die familie het ook vrae oor ’n beloofde betaling vir die begrafnis deur die Oudtshoorn Munisipaliteit wat nog nie ontvang is nie.

Volgens Draai het Hendrik Ruiters, die raadslid vir wyk 5 hulle kort ná die voorval besoek en belowe dat die munisipaliteit vir die begrafnis sal betaal.

Hulle is toe na ’n plaaslike begrafnisondernemer toe en het begin reëlings tref.

Lydia Loggenberg, bestuurder van Yolinsams, sê die begrafnis het bykans R6 000 gekos, maar dat die munisipaliteit slegs R2 300 daarvoor sal betaal.

“Ons het besluit dat ons (Yolinsams) die oorblywende bedrag sal betaal as ons bydrae vir die fa­milie,” sê sy.

Die bybetaling van die munisipaliteit is nog nie ontvang nie.

Die Hoorn het navrae gerig aan Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudts­hoorn Munisipaliteit, maar teen druktyd nog geen kommentaar ontvang nie. (Deur Angelique Erasmus)