Egpaar herstel van virus; sterf dan binne dae

Boet (82) en Willa (79) Vermaak van Oudts­hoorn wat enkele dae na mekaar gesterf het het, kort nadat albei vry verklaar is van die Covid-19-virus. Foto verskaf

’N BEKENDE egpaar van Oudtshoorn, Boet en Willa Vermaak, is verlede week enkele dae na mekaar oorlede. Hulle is albei in die Mediclinic Klein Karoo behandel nadat hulle die Covid-19-virus opgedoen het, maar het albei ook daarvan herstel.

Boet (82) is Woensdag, ’n dag nadat hy en sy vrou volgens hul seun, Peet, virusvry verklaar is, in die hospitaal aan hart- en nierversaking oorlede.
Volgens Peet het die virus hulle liggame net te veel verswak om weer te kon herstel. Willa (79), wat aanvanklik gelyk het of sy mooi herstel, is Saterdagaand in die Millenniumpark Siekeboeg oorlede.

Ons verstaan, Ma. Die Here het Ma kom haal, want Pa het Ma nodig. Die seer is onbeskryflik, maar ons berus ons in die troos, krag en liefde van onse liewe Heer, skryf ’n gebroke Peet, ’n digter en bestuurder by die Wilgewandel Vakansieplaas, Sondag op sy Facebook-bladsy.

Dit is nie maklik om jou ouers so kort na mekaar te verloor nie, sê hy Dinsdag aan Die Hoorn.

Slegs twee van die Vermaaks se seuns, Peet en Christo, ’n oud-redakteur van die Oudtshoorn Courant en tans senior joernalis by Suid-Kaap Forum, sal vandag hul ouers se gesamentlike begrafnisdiens op die dorp kan bywoon. Hul broer, Hendrik, wat in Perth in Australië woon, kon vanweë reisbeperkings as gevolg van die pandemie nie na Suid-Afrika reis nie. ’n Vierde seun, Nelius, is in 2010 aan ’n hartaanval oorlede.

Peet sê die laaste ruk was ’n emosionele wipplankryery vir hul gesin.
“Ons mag hulle aanvanklik nie besoek het terwyl hulle in die Covid-19-saal was nie, en kon slegs van buite die venster na hulle kyk.

“In ’n stadium het my ma regtig beter gelyk, maar ons kon ook agterkom sy was baie bekommerd oor my pa.”

Die laaste dae van hul lewens nadat hul ouers herstel het van die virus, kon hulle egter hul ouers besoek.

Boet het 53 jaar lank as siviele ingenieur ge-werk, 17 jaar daarvan by die Oudtshoorn Munisipaliteit. Voor dit was hy baie jare lank die stadsingenieur van die iKapa Munisipaliteit waar hy hoofsaaklik met swart gemeenskappe gewerk het.

Sy pa was vlot in Zoeloe, sê Peet, en het ’n besonderse respek vir alle mense gehad. Sy respek vir almal was ’n eienskap wat hy van jongs af op sy seuns se harte gedruk het.

“My pa se kalmte en insig, en sy nederige, stil manier is die nalatenskap wat ons almal sal onthou en wat ’n groot invloed op baie gehad het. Hy het altyd gesê: Behandel almal met respek en oordeel niemand nie. En onthou: Hoe meer woorde jy praat, hoe minder sê jy.

“My ma was die krag agter hom. Die een wat hom met liefde bygestaan het deur dik en dun, en die een met ’n besondere naasteliefde vir ander mense.” (Deur Liesel le Roux)