DRIE DA-wyksraadslede van Oudtshoorn het gister (Woensdag) as raadslede bedank.
Dit beteken dat daar – waarskynlik eers in 2021 – drie tussenverkiesings in die Groter Oudtshoorn sal plaasvind waar inwoners nuwe raadslede sal kan verkies in die plek van Ewa Fortuin (Wyk 4 in Bridgton), Hendrik Ruiters (Wyk 5 in Bridgton) en Nellie Soman (Wyk 10 in Dysselsdorp).
Volgens Eleanore Bouw-Spies, DA-kiesafdelingshoof vir Oudtshoorn, was die drie raadslede se bedanking nie ’n verrassing vir die party nie omdat hulle raads- en partyreëls en -regulasies oortree het. “Dié drie raadslede het tugstappe in die gesig gestaar omdat hulle agtereenvolgende raadsvergaderings misgeloop het. Hulle het ook in stryd met DA-koukusbesluite buite stemming in die raadsvergaderings gebly.”
Die drie raadslede asook ’n vierde DA-raadslid, Henry Human, het na bewering nie raadsvergaderings vroeër vanjaar bygewoon nie omdat hulle nie met die ander DA-raadslede wou saamwerk nie en na verneem word betrokke was by gesprekke oor samewerking met die ANC.
Dié vier raadslede het klaarblyklik die vorige burgemeester, Colan Sylvester, ondersteun. Fortuin, Soman en Ruiters wat lede van Sylvester se burgemeesterskomitee was, het hul portefeuljes verloor toe Macpherson hulle nie as lede van sy burgemeesterskomitee aangewys het nie. (Deur Liesel le Roux)
Drie DA-raadslede bedank
