Eerste Klassique Baroque-fees skop af

DIE eerste Klassique Baroque-fees wat op 1 Oktober afskop, is ’n samewerking van twee van Suid-Afrika se klassieke musiekfeeste: die Klein Karoo Klassique wat jaarliks in Oudtshoorn plaasvind, en die Kaapstad Barokfees wat jaarliks in Kaapstad aangebied word.

Die feeste wat weens die Covid-19-pandemie nie vanjaar kon plaasvind nie, span nou kragte saam om vier aanlyn- musiekkonserte aan te bied.

“Ons is oorweldig deur die belangstelling en digitale bywoning van Klein Karoo Klassique se eerste aanlyn-konsertreeks in September, en sien uit om gehore in Oktober met vier splinternuwe klassieke musiekkonserte te bederf,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, wat jaarliks ook Klein Karoo Klassique aanbied.

Die eerste konsert debuteer vandag (Donderdag 1 Oktober), met ’n nuwe uitvoering elke volgende Donderdag.

Uitvoerings is vanaf 18:00 die Donderdag tot Saterdag 31 Oktober om middernag beskikbaar om te kyk.

Erik Dippenaar, artistieke direkteur van die Kaapstad Barokfees, sê die same-werking met Klassique is tot voordeel van beide feeste omdat beide sterk op kamermusiek fokus.

“Hierdie reeks konserte strek oor ’n veelsydige repertoire wat wissel van die eerste helfte van die 17de tot die middel 20ste eeu,” vertel Dippenaar.

“Ek was gelukkig dat ek van my gunsteling Suid-Afrikaanse musikante kon kies om mee saam te werk in die samestelling van dié program. Al die musikante is uitgesoek vir hul kenmerkende eienskappe en sterk­punte en die eindresultaat is ’n unieke kamermusiekervaring.”

Lynelle Kenned (sopraan), Ralitza Ma­cheva (barokviool), Refiloe Olifant (ba­rokviool) en Erik Dippenaar (klave­sim­- ­bel) begin die program met Misshapen Pearls, ’n opwindende stuk wat op die sterk kontraste in barokmusiek fokus.