Hy dans op die maat van sy eie… beet

André Nel en Shorty met die reuse-beet. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIS nie aldag dat jy ’n beet van 3,4 kg in jou tuin uittrek nie, byna drie keer groter as ’n gewone beet, maar dit is presies wat met André Nel (66) gebeur het.

Ry jy in Rademeyerstraat in Oudts­hoorn in Parkweg se rigting, sien jy regs van die pad André se groente- en vrugteboerdery.

Nel, wat 45 jaar in die grondverskuiwingsbedryf gewerk het voor sy aftrede, sê hy het nog nooit so ’n massiewe beet teengekom nie, met die blare wat bo die res van sy beet-plante uitgetroon het voordat hy dit vir Die Hoorn se besoek uit die grond getrek het.

“Daar is geen geheim nie; ek weet glad nie hoekom hierdie beet so groot geword het nie! Dis seker die grootste beet wat ek al ooit gesien het. Hy het uitsonderlik gegroei van dag een af,” vertel hy opgewonde.

Nel boer ook met met spanspekke, waatlemoene en soetmielies. Hy sê om met groente te boer is sy voorliefde, en hy sal daarmee wil aangaan totdat sy lyf nie meer kan nie.

Hy en sy regterhand, Colin Shorty Witbooi, doen alles self. As dit by oestyd kom, trek hulle alles met die hand uit, met die hulp van een of twee ekstra paar hande.

“Dit is harde werk. Mens moet die grond bewerk, water aanry, saadjies plant. Jy kan nie net een dag besluit ‘ek werk nie vandag nie’. Jy moet heeltyd aandag gee.” .

Nel het juis in November en De­sem­ber 2019 sy groente in Ra­de­meyerstraat aan die publiek verkoop, en ver­skaf ook groente aan besighede in Oudts­hoorn, George en Mosselbaai. “Mense is mal oor die vars groente, en ek het al dankie-briefies gekry van mense wat daarvan gekoop het.” (Deur Stefan Skapie Goosen)