Hendrik Januarie – pêrel van Zoar

Hendrik Januarie, skrywer en digter van Zoar. Foto: Deon Meyer

WANNEER jy verby die sendingstasie Zoar op die Roete 62 reis en jou verkyk aan die boustyl van die huisies daar, sal jy waarskynlik nie raai dat daar ’n skrywer met drie boeke agter sy naam woon nie.

Twee boeke van Hendrik Januarie (79), Pro Rata en Nagjakkals, het reeds verskyn met ’n derde, Seweweekspoort Cradle of the Echo, wat tans by die drukker is.

Januarie is op Zoar gebore, was op laerskool in die Engelse kerkskool, St Agnes, in Zoar waarna hy na die Hoërskool Elsiesrivier in Kaapstad is.

Januarie sê sy liefde vir skryf het daar begin en wys trots vier van sy gedigte in die vergeelde 1961-jaarblad van sy skool.

Sy eerste boek, Pro Rata, is in 1989 deur Perskor uitgegegee en is later voor­geskryf by skole. Nagjakkals is in 2007 deur Kwela uitgegee.

Januarie sê hy sal nie na homself as ’n protesskrywer van die apartheidsjare verwys nie, maar skilder in van sy gedigte wel dit wat hy beleef het.

Seweweekspoort, Cradle of the Echo is volgens hom in Engels geskryf omdat so baie van die reisigers wat by hom kom uitvra het oor Seweweekspoort, Engelssprekend was. In hierdie reisgids met foto’s van belangrike bakens van die asemrowende Seweweeksoort, bespiegel Januarie oor onder meer die oorsprong van die naam, onder meer dat beweer word dat die polisie sewe weke geneem het om ’n dief wat daar geskuil het, vas te trek.

’n Ander mite wil dit hê dat dit sewe maande sou neem om die eerste pad deur die poort te bou. In die poort is ook ’n spesifieke varingplant bekend as die seweweeksvaring.

Januarie vertel dat hy, voordat hy as volwassene teruggekeer het Zoar toe, eers twee jaar teologie gestudeer en daarna in Kliptown, Johannesburg ’n beroep as pre­dikant aanvaar het. Na sy terugkeer na Zoar was hy tot met sy aftrede hoofvoorsienings- administraiewe klerk by die destydse Zoar Bestuursraad.

Wanneer jy met Hendrik Januarie ge­sels het, verlaat jy sy huis met meer kennis oor baie sake. Hierdie skrywer is duidelik ook ’n man met baie waardevolle kennis van die streek, ’n presiese, nougesette man wat nie skroom om sy kennis met andere te deel nie. (Deur Deon Meyer)