Dwelms: 56 mense reeds in November vasgetrek

DAAR is sedert die begin van November vanjaar reeds 56 mense in hegtenis geneem vir dwelmverwante oortredings.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is daar die maand al beslag gelê op 1,792 kg tik en 1 266 Mandrax- tablette.

Daar is ook ander dwelms soos dagga en khat in klein hoeveelhede gevind.
In ’n voorval verlede Donderdag (19 November) is ’n buitelandse man in Oxfordstraat in hegtenis geneem in verband met klagtes van handel in dwelms en onwettige immigrasie.

Die inhegtenisname het gevolg op die deursoeking van ’n woning in Oxfordstraat nadat die polisie ’n lasbrief bekom het.

Tydens die deursoeking is op 436 gram tik beslag gelê. Die straatwaarde beloop sowat R109 000.

Njionye Onyinye (38) het verlede Vrydag in die hof op Oudtshoorn verskyn.