Drie van Odn deur AHi vereer

Helen Butler (bo) kantoorbestuurder van die OBK, Jan-Pierre Schoeman (onder) en Adelene Rudolph (heel onder) van Enchanted het as wenners en vereerdes weggestap in die verskeie kategorieë, wat tydens die AHi se Gala-aand aangewys is. Foto’s: Lindi Brill & verskaf

Nie net is die Oudtshoorn besigheidskamer verlede Donderdag-aand tydens ’n gala-geleentheid aangewys as die AHi se Sakekamer van die Jaar nie, maar drie Oudtshoorniete is ook met toekennings vereer.

Helen Butler het die AHi se spesiale toekenning as kantoorbestuurder van die sakekamer gewen.

Sy is nie net die kantoorbestuurder van die Oudtshoorn Sakekamer nie, maar ook van Agri Klein Karoo.

Sy is op 21 Augustus 2008 as die kantoorbestuurder van die Oudtshoorn sakekamer aangestel.

“Ek voel baie geëerd en nederig oor die toekenning. Dit beteken baie dat ek raakgesien word, alhoewel ek my werk doen omdat dit vir my ’n passie is,” het sy Maandag by haar kantoor gesê.

Enchanted Coffee Shop het die toekenning as Kleinbesigheid van die Jaar gewen. Adelene Rudolph, eienaar van Enchanted, het die koffiewinkel in St Johnstraat in Oktober 2016 oopgemaak.

Volgens haar is hulle sukses daaraan toegeskryf dat hulle tydens Covid dringend ander planne moes maak om aan mense se behoeftes te voorsien en so het die besigheid met 20% gegroei tydens die pandemie.

Met Moedersdag tydens Covid het hulle kolwyntjies en koeke by huise afgelewer omdat niemand geskenke kon gaan koop nie en met Vadersdag het hulle spesiaal roosterkoeke gemaak wat mense as wegneemetes kom haal.

“Ons moes tydens Covid heeltemal uit die boks dink en iets doen wat geen ander besigheid in die dorp gedoen het nie. Dis hoe die besigheid nie net Covid oorleef het nie, maar ook as besigheid gegroei het”.

Jan-Pierre Schoeman met sy eierboerdery, Klein Karoo Eggs, is aangewys as Kleinboer van die Jaar.

Sy boerdery is in Schoemanshoek, waar hy met ongeveer 1 500 Highline Brown en Highline Silver-hoenders boer. Hy het op 15 November 2023 die boerdery met ongeveer 250 hoenders begin en in Desember 2023 het hy nog hoenders bygekry.

Jan-Pierre lewer tans elke week 12 000 eiers aan restaurante en gastehuise in die dorp.

Hy lewer die eiers persoonlik met sy bakkie af, behalwe as daar onvoorsiene omstandighede is en hy dan iemand anders moet gebruik.

“Die 250 henne waarmee ek in November 2023 my boerdery begin het, het ek nou laat ‘aftree’. Hulle loop nou as ‘free-range’ hoenders rond en lê eiers. Die werkers koop hulle eiers en ons gebruik dié eiers ook in die huis,” sê hy.

Tydens die gala-aand op Donderdag was Jan-Pierre se video-aanbieding tussen die swetterjoel hoenders duidelik die gaste se gunsteling. Die voorsitter van die AHi, Dr Willie Cilliers, het gesê die mense kan maar vir Jan-Pierre dophou, want daar kom nog groot dinge van hom af. (HANNES VISSER & LINDI BRILL)